Barberton rugby-legende oom Steve vol hoop vir 2025-rugbyseisoen

Oom Steve is al vir 73 jaar lank 'n lid van dié klub, meer as helfte van die 128 jaar wat die klub bestaan (128).

Steve Boshoff, ‘n legende in die Barberton-rugbygemeenskap, is vol hoop vir Barberton Rugbyklub se spanne in vanjaar se liga na ‘n opwindende rugbydag.

Oom Steve, soos hy bekend staan by die rugbyklub en binne sy gemeenskap, was verlede Saterdag, 8 Maart, Barberton se spanbestuurder gedurende hulle rugbydag en hy was trots op hoe hulle spanne gevaar het.

“Dit was ‘n heerlike dag en ek het dit baie geniet; dinge lyk rêrig goed hierdie jaar,” het hy aan Laevelder vertel.

“Ons het ‘n goeie pak voorspelers by die eerstes en die tweedes, en die derdes het ons regtig verras met Saterdag se puik optrede. Ek glo dat dit alles goed sal gaan en dat Barberton ‘n kans staan om die liga te wen, of minstens tweede te kom. Die dissipline onder die spelers is reg en hulle het guts, en ek is trots daarop om dit te sien.”

Die 90-jarige oom Steve is nou al vir 73 jaar lank ‘n lid van Barberton Rugbyklub.

Hy het in 1952 as speler begin, ‘n jaar nadat hy by Hoërskool Barberton skool klaar gemaak het.

Hy was in 1958 vir die eerste keer ‘n addisionele lid op die klub se bestuur, en het oor die jare al baie poste gevul, insluitend ‘n dekades lange termyn as voorsitter.

Oom Steve Boshoff gesels tydens sy verjaardag in Desember.

Hy is nou ‘n erelid van Barberton Rugbyklub en is nog aktief waar hy kan wees.

Oom Steve sal nog soms oefeninge bywoon en hy mis nie ‘n tuiswedstryd nie, of selfs wedstryde in Witrivier of Mbombela.

“Oom Steve omvat alles wat Barberton-rugby is,” sê Phillip Minnaar, self ‘n voormalige president van die klub en jare lange vriend van oom Steve. “Hy het ‘n belangrike rol onder die jong spelers gespeel en ‘n liefde vir rugby by hulle gekweek en vir hulle geleenthede geskep.”

Barberton Rugbyklub se voorsitter, Mark Pretorius, oorhandig die leerrugbybal aan oom Steve.

Die huidige president van die klub en lid van meer as 30 jaar, Pieter ‘Pottie’ Potgieter, het ook met groot lof van oom Steve gepraat. “Hy woon elke tuiswedstryd by, ek kan nie aan een dink wat hy nie bygewoon het nie,” het hy gesê.

In die klub se 128 bestaansjaar, is oom Steve sy enigste erelid.

“Hy is ‘n ware legende van die klub, hy het diep spore getrap, en hy is beslis iemand om na op te kyk. Oom Steve gee nog raad en advies waar hy kan, hy bly altyd betrokke.”

Oom Steve tydens sy verjaardag in Desember.

Oom Steve het op 29 Desember sy 90ste verjaardag gevier, en die klub het ‘n spesiale geleentheid vir hom gehou, waartydens hulle ‘n geskenk aan hom oorhandig het – ‘n leerrugbybal waarop sy naam gegraveer is. Met die klub se algemene jaarvergadering in Januarie, het hulle ook aan hom ‘n geraamde collage van foto’s van sy verjaardagvieringe oorhandig.

Sy spore is al só diep getrap in Barberton, oom Steve kan homself nêrens anders sien nie. “My kinders het my al gevra om Nelspruit toe te trek, maar ek kan net nie. My wortels is in Barberton, en ek kan nie my wortels opgrawe nie,” sê hy.

“As ek en my vrou winkels toe gaan, doen sy die shopping, want almal ken my en ek praat rugby met die mense terwyl sy aangaan. Ek is ongelooflik trots op Barberton.”

Die spesiale leerrugbybal wat die klub aan oom Steve gegee het. > Foto’s: HH Photograhy & Design
Exit mobile version