Steeds geen spoor van verdwene bouer van Kampersrus
Na vier dae se soek is daar meer vrae as antwoorde.
Ten spyte van ’n intense soektog, wat selfs een van sy gewilde staproetes naby die Swadini-oord ingesluit het, kon daar geen spoor van Machiel ‘Gielie’ du Toit (37) gekry word nie.
Hy word sedert Maandagoggend, 6 Januarie, gesoek nadat hy van Kampersrus, waar hy tydelik woon, spoorloos op pad na ’n bouperseel in Acornhoek verdwyn het.
Ons kon geen spoor of tekens vind wat van enige hulp was nie. Ongelukkig is daar in die stadium bitter min inligting beskikbaar en die soektog het meer vrae as antwoorde opgelewer.
Louis Menge, voorsitter van SARZA Limpopo, sê ses van hulle lede het Dinsdag aan die soektog deelgeneem. Hy sê hulle het teen sonop ’n gesamentlike operasionele punt naby Kampersrus ingerig om die soektog te koördineer. “Ons was oorbluf om te sien hoeveel vrywilligers daar opgedaag het om aan die soektog deel te neem. Ons het in ses spanne verdeel en het nie net die pad na Swadini aan weerskante gefynkam nie, maar het ook van die Jongmanspruitbrug, wat oor die Blyderivier loop, beide oewers deursoek.”
Menge sê alle voetpaadjies en hoë koppies, insluitende ’n staproete waar Du Toit glo gereeld gaan loop het, is gedek. “Ons kon geen spoor of tekens vind wat van enige hulp was nie. Ongelukkig is daar in die stadium bitter min inligting beskikbaar en die soektog het meer vrae as antwoorde opgelewer.”
Volgens hom het hulle hul deelname teen sononder afgelas. “Ons bly egter op bystand indien ons hulp weer benodig word.”
LEES OOK: Mpumalanga High Court grants emergency use of attached firefighting vehicles
Gideon Engelbrecht, Du Toit se neef en ook sy werkgewer, het vanoggend gesê hulle is besig om in samewerking met Vodacom Du Toit se selfoonseine na te spoor. Die laaste keer wat iemand glo kontak met hom gehad het, was Sondagaand toe hy met sy vrou, Jacque, gepraat het. Hy het Maandagoggend omstreeks 05:00 na die Acornhoek Mall vertrek, waar hy besig was om aan ’n uitbreidingsprojek te werk.
Hy het egter nooit daar opgedaag nie. Trouens, volgens sy Mahindra-bakkie se opsporingstelsel het hy in die teenoorgestelde rigting gery. Hoekom is tans nog ’n raaisel.
Die Mahindra is later die oggend verlate op die Swadini-pad gevind. Daar was geen teken van enige struweling daarin of -om nie. Die sleutel was steeds daar, en so ook sy skootrekenaar.
Enige inligting oor Du Toit, wat in Sinoville in Pretoria woonagtig is, kan by 072 145 8809 aan Engelbrecht deurgegee word.