Haastige baba maak sy opwagting by vulstasie in Hazyview

'n Vrou het onlangs geboorte geskenk - in 'n bakkie by 'n vulstasie. Lees hier meer daaroor.

Dit was toe glad nie so seer of moeilik as wat ek gedink het dit sou wees nie!

Dit was Sondag, 6 Oktober, die woorde van Arushka Bekker (19) aan Nico Coetzer (29), die geskokte pa van sy pasgebore baba, Diaan, wat onverwags sy opwagting by ‘n vulstasie op dié dorp gemaak het.

Bekker, wat eintlik eers die Maandag haar baba in die Sabie Hospitaal sou gehad het, het tuis op die stoep gesit terwyl Coetzer in die tuin doenig was. “Sy het in ‘n stadium gekla sy het baie pyn. Ek het my buurman se bakkie geleen om haar gou kliniek toe te vat,” vertel hy.

LEES OOK: Weesrenosters gee geboorte aan ‘kabouter’-bulletjie by Care for Wild Rhino Sanctuary

Bekker se sametrekkkings het egter so vinnig opmekaar gevolg dat hulle besluit het om eerder reguit hospitaal toe te ry.

“Sy het kort-kort sulke gilletjies gegee. Jy moet vasbyt en net nie begin druk nie, het ek by haar gepleit.”

Hulle het gou stilgehou om brandstof in te gooi. Coetzer is by die kafee in om koeldrank te koop.

“Toe ek terugkom by die bakkie het sy met die onverwagse verrassingbondeltjie in haar arms gesit! Ek het gevries! Ek het omtrent uitgefreak en het nie geweet wat om te doen nie,” vertel hy.

LEES OOK: Sommige Mbombela-wonderwerke word tuis voorberei

“Arushka het doodkalm daar gesit met klein Diaan teen haar bors asof niks gebeur het nie!”

Hy het in sy skoktoestand ‘n vriendin gebel en dié het gesê hy moet na die nabygeleë Matikwane Hospitaal gaan.

“Die wagte het ons nog by die hek voorgekeer om te hoor wat soek ons. Toe sê ek net, kyk, alles is verby, hier’s die baby!”

Bekker is by ongevalle opgeneem waar Diaan se naelstring geknip is. Na ‘n vinnige ondersoek is beide ontslaan.

“Vir ‘n eerste-keer-ma het sy my regtig verstom, en is ek so trots op haar en Diaan. Ek het waaragtig nie geweet wat om te doen nie.”

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version