Local news

Eeufeesmylpaal vir Koedoes-rugby word in Mbombela gevier

Die oud-Springbokkaptein, John Smit, sê met die druk waaronder klubrugby in Suid-Afrika verkeer, is dit ongelooflik vir ’n klub om al vir 100 jaar te bestaan.

Die Nelspruit Rugbyklub het Vrydagaand, 27 September, ’n groot opskop ter viering van sy eeufeesherdenking gehou.

Bykans 230 gaste, insluitende ’n paar Cell C Rugby Legends soos Schalk Burger, John Smit, Bakkies Botha en Bryan Habana, het dié geskiedkundige aand bygewoon.

Oudspelers en vriende van die klub het van so ver as Kaapstad, die Vrystaat en KwaZulu-Natal gereis om nie net die klub se 100ste bestaansjaar te vier nie, maar ook om hulde aan Herklaas du Preez vir sy 38 jaar as voorsitter van die klub te bring.

Die Airlink Pumas se hoofafrigter, Jimmy Stonehouse, het die klub as die provinsiale span se tweede tuiste beskryf. Hy het ook gesê in rugby is daar twee dinge wat nooit verander nie; die liefde vir die spel en die vriendskappe.

Die oud-Springbokkaptein, John Smit, het gesê vir ’n rugbyklub om 100 jaar lank te bestaan, is ongelooflik, veral met die druk waaronder klubrugby in Suid-Afrika verkeer.

Die klub het tans ongeveer 120 aktiewe lede. Du Preez, wat in 1966 vir die eerste keer in die Koedoetrui uitgedraf het, skryf die klub se sukses aan goeie bestuur toe.

“Om ’n sportklub te bestuur, is soos om ’n besigheid te bestuur. Ons het nog altyd top mense van die dorp op die bestuursraad gehad – mense met sakekundigheid,” het hy gesê.

Die klub het in die vroeër jare hulle met fondse van boere en plaaslike sakeondernemings grond by die munisipaliteit gehuur waar ’n veld en paviljoen met kleedkamers (vandag Hoërskool Nelspruit se hoofpaviljoen en A-veld) gebou is.

ALSO READ: Stormers take down Pumas in URC warm-up at Nelspruit Rugby Club

Met die totstandkoming van Hoërskool Nelspruit in 1952 is die huidige klubgronde bekom. Weer eens met die lede se eie fondse het die klub self gras en rugbypale geplant, asook kleedkamers en toilette gebou.

Danksy ’n lening van die stadsraad, die Laeveld-subunie en Volkskas Bank is ’n paviljoen met nuwe toilette en kleedkamers in 1965 gebou. Later het ’n plaaslike boer, Louis de Villiers, geld geskenk vir die bou van die onthaalsaal en die oprig van spreiligte.

Verdere verbeteringe is in 1989 aangebring en in 1994 is die B-veld oorgeplant en nuwe spreiligte en ’n besproeiingstelsel geïnstalleer.

Tydens Vrydagaand se funksie is fondse deur middel van ’n veiling ingesamel. Drie getekende en geraamde rugbytruie, tesame met ’n 2007 Rugbywêreldbeker-kunswerk is elk vir tussen R10 000 en R15 000 verkoop.

ALSO READ: Bittersweet provincial final results for Nelspruit Rugby Club

You can read the full story on our App. Download it here.

Jacqueline Herbst

Lowvelder's News Editor/Senior Journalist. I am an investigative news hound and photographer who has contributed to several prominent publications, including the Sunday Times, The Witness, The Citizen, and a few of Caxton's local titles. I also have experience in TV and radio. Although I can write about almost anything, my heart is in investigative and sport journalism.
Back to top button