VIDEO: Ons eie Tannie Poppie en die diamant van Cullinan deel Erfenisdag-sentimente

Tannie Poppie van Kokkedoor-faam en Willie Strauss deel hulle Erfenisgunstelinge met die Laevelders.

Vandag, Dinsdag 24 September, vier ons Erfenisdag, wat natuurlik later danksy Jan Braai as Braaidag bekendgeword het.

En ja, daardie vleisie oor die kole, paptert en potbrood is ook deel van ons erfenisspens – maar ons onthou ook die geure en reuke van skaapboud, afval, koeksisters en malvapoeding.

En wie sal dan nou nie beter weet as ons eie onthoukok van die 2013 Kokkedoor-kompetisie nie?

Tannie Poppie Coetzer van Kokkedoor, wat tydens die kompetisie in almal se harte as die ouma van kosmaak ingekruip het en tans op Kriel in Mpumalanga woon en ’n kosbeoordelaar is, doen graag kosdemonstrasies en het al twee resepteboeke die lig laat sien, onder andere Tannie Poppie kook en Tannie Poppie kook weer.

“Ja, dit is ook Braaidag, maar ek verkies nog steeds om op die stoof my kos gaar te maak. Daadie geure en smake neem my terug na my kinderdae, toe ek by die stoof langs ouma Lenie op ’n stoeltjie gestaan het en kyk het hoe sy kos gemaak het. Bobotie, brode, stampmielies, malvapoeding en koeksisters. Erfenisdag moet vir die nageslag behoue bly,” sê sy.

Haar resepteboeke was uiters gewild en is tans uitverkoop, maar die goeie nuus is dat hulle tans herdruk word en binnekort weer op die winkelrakke beskikbaar sal wees, met al haar wonderlike onthoukosresepte.

Tannie Poppie sê egter dat enigiemand haar, of enige ouma as dit daarby kom, gerus kan WhatsApp of skakel as dit by raad vir onthoukos en resepte kom. .

Skakel haar gerus by 082 523 0612.

Kyk na Tannie Poppie se boodskap hier:

Tannie Poppie deel ook van haar gunstelingresepte:

Tannie Poppie se beesstertpotji
e
Braai die vleis in ’n ysterpot tot bruin. Voeg sout, peper en speserye van jou keuse by.

Gooi 5 ml balsamiese asyn by. Gooi so ’n halwe bottel wit kookwyn by en laat kook tot amper sag. Voeg groente van jou keuse by.

Ek gebruik aartappeltjies, heel wortels, heel uitjies en patats. Kook tot groente dekadent is. Voeg nou koolblare bo-op by.

Maak pot toe en kook tot gaar. Dit is nou heerlike potjiekos.

Liplekker.

Tannie Poppie se beesstertpotjie.

Tannie Poppie se koeksisters

Koeksisters met warm stroop. Kook eers stroop tot dik, haal van stroop af en sit eenkant. Maak dan koeksistersdeeg aan. Vleg en bak in warm olie. Druk in afgekoelde stroop.

Tannie Poppie se malvapoeding
Bestanddele:
• 1 kop koekmeel
• 1 kop suiker
• 1 eier
• ¼ tl. sout
• 2 tl. bakpoeier
• 1 groot lepel hoogvol appelkooskonfyt
• 1 tl. koeksoda hoogvol opgelos in ¼ kop melk.
• 1 e. hoogvol botter.
Metode:
• Meng alles saam tot slap deeg. As deeg te styf is, voeg nog melk by.
• Bak 25 minute.
• Haal uit en maak gaatjies in tert. Gooi warm stroop oor.
Stroopbestanddele:
• 1 kop suiker
• 1 kop melk
• 25 ml botter
• 5 ml vanieljegeursel.
Metode:
• Kook tot lekker stroop, nie te dik nie.

Tannie Poppie se malvapoeding.

Willie Strauss, die kabaretsanger en skrywer van die resepteboek, Daar is ’n engel in die koskas, het ook ’n spesiale boodskap aan al die Laevelders, want soos hy dit stel, Mbombela is sy heel gunstelingplek in die hele land.

Strauss is ’n geliefde televisiepersoonlikheid, akteur, liedjieskrywer, sanger en koskenner. Hy tree by kunstefeeste op, waar sy optredes deurgaans baie gewild is. Hy woon op Cullinan.

En net soos wat die dorpie bekend vir sy diamante is, is Strauss ’n diamant in eie reg wanneer dit by kosmaak kom. Hy is ook veral op die dorp bekend met sy winkel en sy Sondae se langtafeletes is gewoonlik lank vooruit bespreek.

Kyk na Willie se boodskap hier:

Vir kabaretbesprekings en om sy resepteboek aan te skaf, skakel hom by info@williestrauss.co.za.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version