Local news

Weesrenosters gee geboorte aan ‘kabouter’-bulletjie by Care for Wild Rhino Sanctuary

Care for Wild, die grootste rehabilitasiesentrum vir renosterwesies, het onlangs 'n unieke oomblik beleef met die geboorte van 'n nuwe renosterbulletjie.

“Ag shame! Hy’s is so klein, hy lyk soos ‘n middelslagvlakvarkie!”

Dit was Woensdag, 11 September, die uitbundige reaksie van Petronel Nieuwoudt oor die eerste swartrenostertjie wat by haar veilige hawe vir renosters, Care for Wild Rhino Sanctuary, die lig gesien het.

Care for Wild is die grootste rehabilitasie-sentrum vir renosterwesies in die wêreld wat daarin spesialiseer om klein en beseerde renosters, wat slagoffers van stropery is, te versorg.

LEES OOK: Another addition to Care for Wild rhino family

Wat die geboorte van die nagenoeg 40 kg bulletjie, wat Nieuwoudt as ‘Kaboutertjie’ aanspreek voor hy ‘n amptelike naam kry, soveel meer uniek maak, is dat hy deur twee swartrenosters, Phoebe en Ratu, wat albei weens rensosterstropery wees gelaat is, in die lewe gebring is.

Phoebe saam met die eerste swartrenostertjie wat by Care for Wild Rhino Sanctuary die lig gesien het.

Phoebe is in 2017 deur die Krugerwildtuin na Care for Wild gebring toe sy langs die karkas van haar ma, wat deur stropers vrekgeskiet is, ontdek is. Die tragedie het op 21 September 2017, in die Malalane-area van die wildtuin plaasgevind. In daardie stadium was die kalfie 18 maande oud.

“Daai dag se besluit om die kalfie te red was nie net ‘n buitengewone en brawe besluit nie, maar ook die beste ooit,” vertel Nieuwoudt.

LEES OOK: Sixth orphan for Care for Wild sanctuary since November

Terwyl daar hard gespook is om Phoebe groot te kry, het stropers sewe maande later weer in die wildtuin toegeslaan en is nog ‘n koei in die Stolsnek-area gestroop. Hier het die veldwagter op Ratu, wat 10 maande oud was, afgekom.

Ook hy is in ‘n noodreddingspoging na Care for Wild oorgeplaas. Die bulletjie was so klein dat hy steeds aan sy ma gesoog het, en hy moes met ‘n bottel gevoer word.

Phoebe en Ratu, die koei en die bul wat albei weens rensosterstropery as kalfies weesgelaat is.

“Nadat die twee gerehabiliteer is, is daar met die moeilike proses om hulle in die natuur te hervestig, begin. Die poging was moeisaam, maar kan nou uiteindelik as ‘n groot suksesverhaal in die annale van renosterbewaring by Care of Wild opgeteken word, met die aankoms van die nuweling.”

Veldwagters het Dinsdag in die vroeë oggendure op ‘n Flir-termiesebeeldkamera gesien daar is beweging saam met Phoebe. Hulle het dit by Nieuwoudt aangemeld. “Ek het met ‘n verkyker na Phoebe gesoek en was oorstelp van vreugde toe ek die kalfie langs haar sien!”

Wat vir haar en die hele span by Care for Wild ‘n uitsonderlike gebeurtenis was, was toe Phoebe in ‘n stadium uit die digte bos na hulle aangeloop gekom het om vir hulle haar kalfie te wys.

“Phoebe, Ratu en Kaboutertjie is ‘n sprekende voorbeeld dat ons ‘n nuwe hoofstuk binnegaan en wat bewys en hoop skep dat swartrenosters in die toekoms kan floreer,” sê Nieuwoudt.

Back to top button