Local news

IN FOTO’S: Feeskarnivore geniet NG Kerk Nelspruit-Suid Vleisfees

As daar een ding is wat ons ou volkie nou geniet is dit vleis - en dié vleisfees het nie teleurgestel nie.

Die jaarlikse vleisfees by die NG Kerk Nelspruit-Suid het die afgelope naweek, op Vrydag en Saterdag, 30 en 31 Augustus, weer eens vir vet gesinspret gesorg.

Dié gemeente vier vanjaar sy 60ste verjaardag en het die fees oor twee dae aangebied. Die verrigtinge het Vrydagoggend met ‘n heerlike ontbyt afgeskop, en die aand is met ‘n spitbraai en jolige 60’s-musiek voortgesit.

Stephanie Swart en Deon Buys beman die vleistafel.

Saterdag was al die stalletjies oop. Ten spyte van die koue, nat weer, het oud en jonk reeds vroegoggend deur die hekke gestroom op soek na winskopies, lekkernye en heerlike samesyn.

James en John van Coller, en Retief van Rooyen.

Met ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite om aan deel te neem, soos ‘n kussinggeveg, ‘n springkasteel en ‘n slangdemonstrasie, was daar nie tyd om verveeld te raak nie.

Wat is ‘n kerkfees nou sonder koek en tuisgebak? Die tafels het behoorlik onder ‘n eindelose verskeidenheid tuisgebakte koeke, terte en poedings gekreun.

Homer Neethling en Johan Kok help Santjie Labuschagne met haar vars groente en vrugte.

Dan was daar ook natuurlik lekker pap en kaiings, boereworsrolle en hamburgers om aan te smul. Inkopievrate kon hul regmakertjie in die saal kry waar alles van boeke tot kreatiewe skeppings, plante, vars groente en vrugte, asook tradisionele kerrie-en-rys te koop was.

Natalie Bibbey en Rika du Plooy beman een van die vele koektafels.

Die hoogtepunt was natuurlik die vleismark in die Koinonia-saal waar mense met sakke vol winskopies weggeloop het.

Back to top button