Mistige nat Natsteen-naweek op Kaapsehoop: sielsvreugde

’n Dubbeldoorviering en -ervaring vir almal wat ink in die are het was die afgelope naweek in 'n mistige Kaapsehoop aan die orde van die dag. Maar die samesyn was kookwater!

“Hier’s ons almal tesaam, net in vriendskap se naam, met ons erns en luim; met ons doen en versuim. Laat die sorge vir eers. Laat net vreugde hier heers, want oor die rand van die glas lyk dit als nommerpas.”

Gepas is dié reël dan ook uit wyle joernalis Koos du Plessis se lied wie se foto groot in die bekende Nagkantoor Kuierkroeg pryk, maar wie se stem nou stil is.

Wyle Koos du Plessis se foto wat pryk in Nagkantoor. >Foto: Bertus de Bruyn

Die mediamense het die afgelope naweek op Vrydag 30 Augustus die groot trek na die immergewilde kuierkroeg onderneem om weer hier skouers te skuur. Die Natsteen-naweek het vanjaar saam met die Innibos Boekenaweek plaasgevind, en dit was ’n dubbeldoorviering en -ervaring vir almal wat ink in die are het.

LEES MEER HIER: Bladsy vir bladsy was die Innibos Boekenaweek die blaai werd

De Wet Potgieter, die oud- ondersoekende joernalis en eienaar van Nagkantoor, wat geboorte aan die nou reeds bekende Natsteen-naweek gegee het, voel só oor die naweek:

“Die Natsteen-naweek het al my verwagtinge oortref en tesame met Innibos se Boekefees kon ek en An van der Walt daarin slaag om die room van joernaliste en skrywers berg toe te bring. Dit was so ’n groot eer om van die ouer garde hier te kon hê: legendes soos Herman le Roux, Gennie van Deventer, Johan Pretorius en Jac du Toit. Dit was lekker om van ons eietydse mense soos Tim du Plessis, Barnard Beukman, Foeta Krige, Retha Fourie, Jenine Coetzer, Erika de Beer en ook vir Ilse Salzwedel te kon verwelkom. Onmoontlik om almal te noem, maar ons was almal gesellig. Die hele idee van die naweek is om al die oudstryders bymekaar te kry en rustig kopstukke op Kaapsehoop te kom sit en gesels. Daar was ’n leemte met Harald en Aletta Pakendorf wat dit nie kon maak nie, maar volgende jaar is hulle terug. Die Natsteen sou nie moontlik gewees het sonder die finansiële hulp van Dagbreektrust en Nick van Huyssteen van Saronsberlandgoed in Tulbach se milde skenking van sy uitsoekwyne nie.”

Foeta Krige, Madelaine Paige en Andreas Jordaan geniet middagete.

Daar is Saterdagaand lekker gekuier en die spitbraai van Sakkie van Rooyen was ook voorwaar ’n hoogtepunt.

Van Rooyen stel dit so:

“Wat ’n ongelooflike Natsteen-naweek by Kaapsehoop saam met die Innibos Boekefees en die Nagkantoor- kroegie. Ek moes dié Saterdag vir die tweede keer ’n spitbraai saam met my pel, Kaptein Brandt, en die legends van die joernalistieke/radiowêreld doen. Laas jaar se braai was lekker, maar hierdie jaar was dit ten spyte van die weer een groot partytjie. Ons het vir ongeveer 40 mense by die skaapbraai reggemaak, maar op die ou end was daar om en by 90 gaste. Ons het ook lekker rugby gekyk en daarna is daar ’n groot vuur gemaak om die wen oor die All Blacks te vier, natuurlik saam met ’n ou wyntjie van Saronsberg. Wat egter indrukwekkend was is die noue band wat die klomp boekskrywers, koerant- en radiopersoonlikhede het, hoe gemaklik hulle oor die weg kom en hoe lekker hulle die hele naweek saamgekuier het. Dit is lekker om te sien dat mense die lekker memories van saamwerk in die mediawêreld celebrate.”

De Wet Potgieter en Sakkie van Rooyen

Marius Bakkes, oudjoernalis, mediapraktisyn en Laevelder, druk homself soos volg uit:

“Dit was nou die tweede keer dat ou vriende wat jare lange kollegas in die Suid-Afrikaanse mediabedryf was op hierdie besondere manier bymekaarkom. Inderdaad ’n wonderlike inisiatief en elke keer ’n hoogtepunt. Dat Kaapsehoop hier op die platorand die plek hiervoor moes wees, lê my na aan die hart.”

Marius Bakkes en Nicol Stassen.

Peter Morey, oudfotograaf by Pretoria News vanaf 1981 tot 1990, vertel só oor sy ervarings:

“Ek het die Natsteen- en Boekenaweek terdeë geniet. Dit was’n wonderlike geleentheid vir baie van die journos en skrywersvriende van vorige jare om saam te kom en goeie – en ’n paar sensitiewe – herinneringe in ’n perfekte, alhoewel ysige omgewing, te geniet. Sal beslis terug wees vir ’n jaarlikse besoek.”

Peter Morey het sekergemaak die Natsteners bly warm.

AJ Opperman, kuns- en vermaakjoernalis by Netwerk24, deel ook sy ervaring van die afgelope naweek:

“Moenie ’n kwinkslag tydens ’n boekgesprek geringskat nie. Die tweede Innibos Boekenaweek wat die afgelope naweek op Kaapsehoop gehou is, was ’n vrolike een. Die naweek het my sterk aan die woord ‘byeenkoms’ herinner, want dis gewoon wat so ’n naweek is: skrywers en joernaliste wat bymekaarkom en oor alles en nog wat gesels. Noem dit ’n reünie. Ernstige oomblikke was daar gewis; daar is immers verskeie kundigheid wat gedeel word. Dis ’n voorreg om na mense te luister wat hulle storie ken, maar op ’n toeganklike manier. Jy betrap jouself dat jy meer as een keer begin lag of instemmend knik terwyl jy jou persoonlike raamwerk uitbrei. As iemand wat daagliks met woorde werk, maar dit nie sal waag om homself ’n skrywer te noem nie, het ek die naweek opnuut besef ’n boekgesprek is van onskatbare waarde. Dis interessant om te hoor hoe skrywers se koppe werk, hul prosesse en tydsbesteding. Die gesprek oor die boek Beeld 50: Om ’n groot storie hard te slaan, wat ter viering van dié dagblad se 50ste bestaansjaar saamgestel is, was nogal ’n emosionele ervaring, want daar is soveel joernaliste wat hulle brood daar verdien het. Barnard Beukman, die redakteur van Beeld, en die joernalis Erika de Beer, samesteller van die boek, het Saterdag met Annemarie van der Walt, samesteller van die Boekenaweek se feesprogram, daaroor gepraat.”

AJ Opperman, kuns- en vermaaksjoernalis by Netwerk24, en Annemarie van Burick, bulletin skrywer en leser by RSG. > Foto: Verskaf/Annemarie Van Burick

Oudradiojoernalis Jenine Coetzer deel haar sentiment:

“Dit was my eerste Natsteen-naweek, en ek het van die Kaap af opgevlieg vir die saamwees met ’n span oudkollegas van die SAUK en natuurlik uit ander media. Met die Boekefees ook was dit heerlik om van die skrywers te ontmoet en oor soveel interessante topics meer te hoor en oor te praat. Ek dink die keuse van boeke/temas was uitmuntend… komplimente aan almal wat die fees beplan het. Dié Kaapsehoop-samekoms is vir mý ’n móét vir sielsvreugde, lekker lag, die afstof van kosbare bande met kollegas, oud en jonk, en sommer net saamwees vir ’n paar dae met like-minded mense – ek kom beslis weer!”

Foeta Krige, Jenine Coetzer, Retha Fourie, Metzi van der Merwe en Ilze Salzwedel.

Oor die rand van die glas was als by die Natsteen-naweek nommerpas!

Tot volgende jaar.

@lowvelder

Die boekgesprekke is vir nou eers opsygeskuif en die gaste geniet Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie-faam se solo-vertolking van “Uitgeskryf”. Sterk liriekgedrewe musiek en kleinkuns op sy beste. Moet nie dag twee, môre, 31 Augustus, misloop nie. Laevelder hou julle môre op hoogte. #boekenaweek #kaapsehoop

♬ original sound – Lowveld Media

@lowvelder

Annamarie van der Walt, organiseerder van die Innibos Boekenaweek 2024 deel haar sentiment oor die uniekheid van die naweek met Laevelder. #bookstagram #bookfestival

♬ original sound – Lowveld Media

Exit mobile version