Bladsy vir bladsy was die Innibos Boekenaweek die blaai werd

Die Innibos Boekenaweek die afgelope naweek het boekwurms gemus en geserp gehou in ń koue Kaapsehoop met lekker warm boekgesprekke oor drie dae.

Die afgelope Innibos Boekenaweek op Kaapsehoop was spreekwoordelik ’n hoofstuk vol boekgesprekke wat vir lank op die boekrak van lekkerlees onthou sal word.

Die ysige weer het onverhoeds dog voorspel neergedaal. Die weervoorspelling het nie teleurgestel nie en het bygedra dat gaste, gemus en geserp, hulself knus kon verkneukel in al die boekgesprekke in die Pronoia-kapel.

Want dit is mos hoe ’n boekwurm ’n boek geniet. Die gesprekke het met mening op Vrydag om 15:00 afgeskop.

Contraband: The Rhino Wars – Goed nagevors, ‘anders was dit mos fiksie’

De Wet Potgieter.

Buks Viljoen, ondersoekende vryskutjoernalis en jare lange vriend van De Wet Potgieter, het met hom die gesprek oor sy nuutste pennevryg, Contraband: The Rhino Wars, gelei.

Potgieter, self ’n welbekende ondersoekende joernalis, het uit die staanspoor vertel dat die boek ‘stil-stil uitgewers toe is en stil-stil gepubliseer is’. “Mafias van Mbombela sou die boek stop,” sê hy.

Viljoen wou tydens die boekgesprek uitvind of die hande van hooggeplaaste weermagoffisiere, wat in die boek by die naam genoem word en destyds met die smokkelary verbind is, dan nou regtig so vuil is soos wat Potgieter skryf.

De Wet Potgieter en Buks Viljoen.

Frontmaatskapye wat olifanttande en diamante vanuit Angola na Windhoek gesmokkel het en dan na die buiteland word in Contraband genoem, sowel as die gebied Cuando Vubango. “Die slagting waar Savimbi se soldate troppe en troppe olifante en renosters voor die voet doodgeskiet het – 100 000 olifante is gedurende die bosoorlog gestroop om die oorlog te finansier,” luidens Viljoen.

Met daardie tipe ondersoekende kyk gevolg met ’n kort stilte het Potgieter na die gehoor gekyk en gesê: “Gaan lees self. Gaan lees wat onder ons neuse en onder ’n dekmantel gebeur het. Dit is vreesaanjaend.”

Viljoen wou ook weet of dienspligtiges destyds by die smokkelary betrokke was. “Dit was die useful idiots wat gebruik was,” het Potgieter geantwoord. Staatskaping van die Skukuza Streekshof kom ook in die boek onder loep, en soos Potgieter dit stel: “Geld praat. Regters en staatsaanklaers word omgekoop.”

’n Deel wat vir Potgieter in die boek uitstaan is dié van Pieter Lategan van die beskermingseenheid vir bedreigde spesies. Lategan was ’n stigterslid en was vir 10 jaar bevelvoerder van dié eenheid. In 1989 is die eenheid gestig met die taak om die smokkelary van bedreigde spesies en die verkoop van produkte daarvan, soos ivoor en renosterhoring, te stop.

Potgieter vertel ook dat van die eerste lokvalle waarby hyself in sy dae as weermaglid betrokke was, juis met ’n rensoterhoringtransaksie in Hillbrow was. “Dit was een van die beste elite eenhede wat daar was, en ek het baie respek vir Pieter Lategan.”

Vir Viljoen het die boek hom soos ’n bom getref, want soos hy dit tydens die gesprek gestel het, is die realiteit dat jy niemand kan vertrou nie.

LEES OOK: Mistige nat Natsteen-naweek op Kaapsehoop: sielsvreugde

Ná die boekbespreking was dit tyd vir ’n vraag-en-antwoord-sessie, en Kobus Terblance, wat deur die hele boekenaweek al die gesprekke bygewoon het, op dieselfde plek in die tweede ry, se vraag was kort en kragtig:

“Dit klink na ’n woeste boek. Kan ek alles wat jy geskryf het glo?” Kortstondig en met oortuiging het Potgieter geantwoord: “Ja, jy kan. Dit is vanaf 1988 tot ses maande vóór die boek gedruk is, nagevors, anders was dit mos fiksie.”

Erika Scheepers en Kobus Terblance.

Wat is volgende uit Potgieter se pen?

“Ag nee, vir eers hou ek mense happy in die Nagkantoor [Potgieter is die eienaar van dié gewilde kuierkroeg op Kaapsehoop]. Ek is 71. Ek weet daar is nog stories wat geskryf moet word, ek het al die paper trails – daar is stories wat lê. ’n Skrywer maak nie geld uit boeke uit nie; dit is ’n liefdestaak. Maar aan die ander kant moet ’n skrywer vir die nageslag pen op papier sit, so ons sal sien… daar lê dalk iewers ’n boek.”

Vir nou, slaan jou hande op Contraband. Dit is ’n moet-lees. Wat het alles onder ons neuse gebeur? Skaf dié pennevrug gerus aan. Jy sal nie spyt wees nie.

Seun – Stories moet vir verruiming vertel word

’n Rou, selfonthullende memoir wat vra hoe word ’n seun ’n man? ’n Seun wat nie goed genoeg vir die weermag is nie. Dit is ’n aangrypende relaas oor grootword tydens die dood van ’n politieke bestel in die 1980’s.

Hancu Louw, joernalis, skrywer en navorser by Nagvlug Films, het die gesprek met ons eie woordprofeet, skrywer en joernalis, Dana Snyman – ook nou geliefde inwoner van Kaapsehoop – oor sy nuwe boek Seun gevoer.

Barnard Beukman, Redakteur van Beeld, en Dana Snyman.

Seun is ’n ‘boek vol vrees, geheue en herinneringe’, en Snyman deel hier stories waaroor hy nog nooit gepraat het nie – want dit is alles deel van die verruiming om vernuwe anderkant uit te kom.

Dit is veral sy ervaringe van die 1980’s wat in die boek na vore kom, en die gaste kon hulself in sy verhale in die boek oor die ‘vinger-president’ van destyds, PW Botha, verloor, asook AWB-saamtrekke, sy onlangse besoek aan Orania, die Voëlvry-toer, en sy dae as weermaglid tydens sy diensplig.

Hy vertel ook hoe hy uit die weermag ontslaan is nadat hy as skisofreen gediagnoseer is. “Ek is nou 61, en ek het 40 jaar se geheue geskryf. En ek het besluit, ‘lieg’ die waarheid.”

Snyman het ook vertel dat mense dink dat hy net altyd stories vertel; stories oor die verlede, Valiants en die sirkusse.

“Mense dink ek dink die verlede was beter. Dit was nie noodwendig beter nie. Die nuwe Suid-Afrika het my vrygemaak om my storie te vertel. Ons sal nooit ontslae wees van apartheid nie. My boek is om dit te besweer, maar nie in ’n melodramatiese wyse nie. Apartheid was verkeerd en ons moet dit nooit vergeet nie.”

Louw het ook gemerk dat Snyman baie na Pretoria verwys, veral straatname en bakens, en dat die stad amper ’n karakter in sy boek word. Louw wou weet hoe sy verhouding met die Jakarandastad van destyds teenoor nou s’n staan, met spesifieke verwysing na die Voortrekkermonument.

Dana Snyman en Hanku Louw.

Snyman moes destyds by Voortrekkerhoogte vir sy diensplig aanmeld, minwetend dat hy oor ’n paar maande ontslaan sou word.

Hy voel baie sterk oor identiteit – die Afrikaner-identiteit – met ’n staaltjie oor sy onlangse besoek aan Orania en die gastekamer waar hy tuisgegaan het se storte. Volgens hom moet Orania se storte tot nasionale monumente verklaar word. En met vele ander verhale kom dit daarop neer dat die inwoners daar hulle eie identiteit het en verkies om dit so te hou, luidens Snyman.

“Maar terug in Johannesburg, byvoorbeeld, is ek in ’n Italiaanse restaurant met ’n swart kelner,” het Snyman verduidelik.

Hy vertel ook dat hy tydens die Voëlvry-beweging by een van hulle konserte iewers in Hillbrow ingestap het.

“En mense sing: ‘Sit dit af, sit dit af’ saam met Johannes Kerkorrel. En toe hulle trek los met: ‘Wat n vriend het ons in PW‘, en lighters is in die lug. Ek is 23 en ek voel, maar ek is tussen mense wat soos ek dink. Ek het saam begin sing, maar ek het ook gedink: ‘Gaan ek gestraf word?’ want dit is op die maat van ‘Wat n vriend het ons in Jesus’. Dis daar waar dinge vir my begin oopgaan het.”

Oor die skryfproses wou Louw weet of hy doelbewus besluit het om onvanpaste taal in die boek te gebruik. “Hoe kan ’n mens oor die weermag skryf en nie vloek nie?” het Snyman laat val.

Tim du Plessis, bekende oudmediaperoonlikheid, wou weet: “Hoekom het jy oopgemaak oor skisofrenie?”

Tim du Plessis.

Snyman was destyds in saal 24 daarmee gediagnoseer, maar darem nie regtig nie. Dit was bloot ’n mediese term wat gebruik is as die weermag van ’n troep wat nie ‘inpas’ nie ontslae wou raak.

“Daar was 3 000 troepe wat dit nie gemaak het nie. Daar was mans in saal 22, 23 en 24. Die ouens is stil. Hulle moet uitkom en hulle stories vertel. Daai goed moet uitkom vir verruiming.”

Seun is ’n eerlike blik op Snyman se verruiming, en net soos hierdie woordprofeet kan, sal hierdie blik van sy 40 jaar se onthou soos ’n moskombers op jou groei.

Die beweging van bloed – Rillende naelbytspanning

Met ’n yslike bobbejaan wat Saterdagoggend ongenooid uit die mis agter die groot kapelvensters in ’n steeds ysige Kaapsehoop verby Pieter Stoffberg en Ilze Salzwedel gestap het, was die stemming van hierdie boekbespreking sommer ook ingestel.

’n Persoon sou dink dat die koue eerder die naweek se boekwurms in ’n warm kooi sou wou laat lê of voor die kaggels verkeer, maar die spanningsverhaallesers het gereedgesit. Salzwedel, self joernalis en skrywer, het met Stoffberg oor sy nuutste boek, Die beweging van bloed, gesels.

Annemarie van der Walt, Pieter Stoffberg en Ilze Salzwedel.

Tydens die onderhoud was dit duidelik dat Stoffberg ’n meester is wanneer dit kom by woordsuinigheid. “Bloot omrede dit spanning by die leser verhoog,” sê hy.

Alhoewel die nuwe pennevrug in die eerste persoon vertel word, word dié perspektief min ingespan.

Die hookarakter, Everhard, se sintuie word hier goed bemeester om die ‘ek’-faktor onder die mat in te vee. Wat Stoffberg ook meesterlik regkry is om in lang paragraafbeskrywings af te wyk en die leser vir ’n oomblik kortstondig op ’n ander reis te neem, en dan weer terug te besorg na die verhaal en die gebeure wat afspeel.

“’n Skrywer moet dit net nie oorbodig gebruik nie, want dan verloor dit effek,” het Stoffberg aan Laevelder gesê.

Sonder om die aap uit die mou te laat, handel die boek in kort oor prof. Nino Everhard wat op sy kombuisvloer wakker word. Daar is oral bloed. Iemand het ingebreek. Sy vrou is aangeval en verkrag, maar niks is gesteel nie. Wat wou die aanvaller hê? Gaan hy van sy skuldgevoel oor sy internetpornografieverslawing kan ontsnap?

Weer die vraag, hoekom is hulle oorval? Gaan Everhard sy interne geveg kan baasraak, met die wete dat hy sy vrou nie teen verkragting kon red nie?

Hierdie is ’n naelbyt-spanningsverhaal wat meesterlik vertel word en jou tot aan die einde aan die raai hou. ’n Lekker moet-lees.

Stoffberg het in 1991 die Eugène Marais-prys vir sy eerste kortverhaalbundel, Die hart van ’n hond, gewen.

Na afloop van die bespreking was dit tyd vir die boekwurms om ontbyt in die Silver Mist-gastehuis te geniet, waar die kaggel reeds lekker geknetter het.

Springboekie en Die geheim tussen die riete – Die wêreld uit die oog van ’n kind

Fanie Viljoen en Constant van Graan is twee bekroonde kinder- en jeugboekskrywers, en dié twee het oor die verbeeldingswêreld wat hulle vir jong lesers skep, gesels. Maar waar kom die skryfvonk vir Viljoen se jeugboeke vandaan?

”Skrywers maak nie ’n bestaan uit boeke uit nie, maar ek wil nie eendag op my bed lê en sê: ‘Ek kon nog ’n storie geskryf het nie.’ Ek verkies maar om een maand pap te eet en ‘n ander maand kaviaar. Daar is iets spesiaal daaraan om die wêreld uit die oog van ‘n kind te sien, en mense moet dit besef. Dit is ’n moeilike genre. As ’n persoon ’n jeugboek met perspektief lees, moet die suggestie reg wees, dan sal volwasse lesers meer respek vir jeugboeke hê,” het Viljoen gesels.

Agter: Alwyn en Ilse van Biljoen. Voor: Constant van Graan.

Sy eerste jeugverhaal, BreinBliksem, is ná 10 jaar steeds in die mark, en dit bewys weer eens dat hy ‘n wenresep volg. “Kinderboeke moet soos vakansie tussen die blaai wees.”

Dit het ook tydens die gesprek geblyk dat die geheime leesresep vir tienerboeke in genoegsame humor, aksie en spanning lê. Dié drie elemente is glo wat tieners boeke laat verslind.

Van Graan het ook vertel dat sinfrases in ‘n sekere ritme geskryf moet word.

“Wanneer die boek voorgelees word, moet dit die kind se verbeelding aangryp, want daar is iets magies in boeke. Klanke speel ook ‘n belangrike rol, soos ‘Janie Jonker gloei in die donker’,” het hy verduidelik.

Die ouer gardes in die gehoor het met leesstof soos ‘Trompie’ en ‘Saartjie’ grootgeword. Met Van Graan en Viljoen se nuwe skeppings skep hulle tussendeur die blaaie vriende vir ‘n nuwe leesgenerasie.

Om konsentrasie en nuuskurigheid by die jong lesers te behou, glo dié twee skrywers ook dat ‘n cliffhanger aan die einde van elke hoofstuk bydra dat hulle weer die boek sal optel om verder te lees. En die groot geheim is dat die boeke nooit ‘n preek moet wees nie.

“Dit is skokkend dat baie skole nie meer biblioteke het nie, nie eens ‘n klasbiblioteek nie. Ek was eendag by ‘n skool wat gespog het dat ek na hulle nuwe kafeteria waar die biblioteek voorheen was moet kom kyk,” vertel Van Graan.

Fanie Viljoen en Constant van Graan.

Viljoen se pleidooi tydens die boekgesprek was dat volwasse lesers kinderboeke moet koop waarvan hulle self hou en later aan kinders oorhandig om te lees – só sal die leeskultuur goed gekweek word.

Alwyn en Ilse van Biljon het ná afloop van die gesprek vir hulle nou 20- en 22-jarige kinders boeke gekoop en vertel dat daar nou soveel meer opsies vir jonges is.

“Die eerste boeke wat ons vir hulle gekoop het was juis van Viljoen s’n, so hulle gaan nou elkeen ‘n getekende kopie van Springboekie kry.”

Oliver (7) en Daniel Havemann (4) het ook na afloop van die gesprek reguit met hulle boeke buite die kapel gaan sit en begin lees.

Oliver (7) en Daniel Havemann (4).

Dit was ‘n verblydende sig om die jeug nog te sien lus wees vir lees, en kort daarna is Laevelder se joernalis genader met ‘n trek aan die broekspyp, en het Oliver vinnig laat val met: “Ek het die boek klaar gelees en ek het dit baie geniet!”

Anoniem en Heks – Sterk vroue skryf oor sterk vrouekarakters

Die twee skrywers wat voor in die kapel vir die boekbespreking, gelei deur Ilze Salzwedel, ingeskuif het, Dibi Breytenbach en Chanette Paul, was gereed om oor elkeen se Heks en Anoniem te gesels.

Breytenbach is by uitstek ‘n sterk vrou wat as staatsaanklaer werk. Sy het reeds sewe boeke in sewe jaar die lig laat sien. En soos sy spottenderwys genoem het: “As jy nie kan sport nie, dan spel jy maar.”

Chanette Paul teken vir een van haar aanhangers ‘n kopie van Anoniem.

Breytenbach het ook sommer met die intrapslag gesê dat mense moet ophou verwys na vroueskrywers. Waarna Paul dit bitsig beaam het: “Ons is skrywers en ons is damn goeie skrywers!” tot groot applous in die kapel.

Maar word skryf makliker met tyd, wou Salzwedel weet?

“Inteendeel, dit raak al moeiliker. Jy moet name kry van karakters en jy word bang jy val in selfplagiaat. Ek word ook ouer, so ek skryf nie meer vanaf 06:00 tot 18:00 nie. Ek skryf vanaf 08:00 tot 18:00,” vertel Paul.

Breytenbach het ook vertel dat elke boek soos ‘n nuwe een voel. “Ek doen ook baie navorsing met elke nuwe boek.”

Paul het ook genoem dat sy in in selfvernieting gelewe het oor een persoon se kommentaar oor haar boek, Murasie.

“Iemand het repliek gelewer dat Murasie ‘n drie-letter-woord-boek is. Tans presteer Anoniem beter as Mursasie en ek dink dat dit my beste boek tot dusver is.”

Dit was duidelik dat daar in dié twee se skeppings meer as genoeg spanning, sprokies en vroue wat hulle nie laat voorsê nie is.

Bloedbroers – Bossies, bomskok, bombef*k

Met ‘n bottel Boplaas-sjerrie voor in die kapel was die tafel gedek vir ‘n warm gesprek, waarvan die tema die meeste van die gehoor se hartsnare sou raak.

Nadat die ‘vlossie oor is’, soos Annemarie van der Walt, die Innibos Boekenaweek se organiseerder, met ‘n teugie aan die sjerrie om die koue te verdryf voor die praatjie genoem het, was Foeta Krige gereed om die gesprek met die skrywer van Bloedbroers, Deon Lamprecht, te lei.

Krige het dit ook goed aan die begin van die gesprek opgesom.

Cobus Bester, Deon Lamprecht en Tim du Plessis.

“Ek is ‘n sucker vir ‘n goeie storie, en jou storie was baie lekker om te lees. Maar dit is moeilik om so ‘n storie te vertel, want in fiksie skep ‘n mens karakters, maar in niefiksie vind jy karakters,” het hy gesê.

Maar hoe het Lamprecht by die storie uitgekom?

“Ja, daar is mos maar daardie toksiese kultuur van ‘cowboys don’t cry’. Baie van die soldate met wie ek gepraat het se huwelike is gebroke. Om stories te kon hoor van hoe die soldate in die aand nagmerries gekry het, dan onder hulle beddens gaan lê het om verder met hulself te stoei… dit was hard om te hoor.”

Kortliks handel Bloedbroers oor die eindelose dag van 10 Junie 1980, met die bloedige geveg onder die Angolese son waar 13 lede van die Suid-Afrikaanse Weermag gedood en etlike beseer is, toe 61 lede van die gemeganiseerde bataljongroep ’n kompleks van SWAPO-basisse in die suide van Angola aangeval het.

Bloedbroers vertel van die oorlewendes se ervarings tydens die geveg. Die boek werp lig op wat met soldate gebeur nadat die laaste skote afgevuur is en volg die veterane toe hulle vier dekades ná die operasie vir die eerste keer na die slagveld teruggekeer het.

Krige sê dat die “morele neurons inskop wanneer jy die boek lees, want jy voel ander se trane en gevoelens, wat so goed in die boek beskryf word dat ‘n leser begin huil.”

Lamprecht het ook bygevoeg dat hy glad nie poleer het wat die soldate aan hom vertel het nie.

“Ek het geskryf soos hulle praat.”

“Daar is baie kru woorde in jou boek, en die woorde word deel van jou daaglikse dieet as troep. Het jy jou woorde in die boek versag?” wou Krige weet.

Lamprecht het geantwoord dat sy verstandhouding met hulle was: “Wat jy sê is wat ek skryf.”

Daar is harde stories aan die skrywer vertel, maar dit kom daarop neer dat bande wat in bloed gesmee is, vir ewig is.

Het die skryfproses Lamprecht se lewe verander?

“Dit was bitter emosioneel. Jy word ‘n leë vaas, en hulle stort jou vol. Jy begin saam met hulle leef – ek het naderhand gevoel ek moet die boek nou klaarmaak.” het Lamprecht vertel.

Die skrywer se groot doel met die pennevrug was ook om stem te gee aan mense wat ons nooit geken het nie – en dat dit tyd was om hulle stemme te hoor.

Hierdie is grensliteratuur op sy beste, maar is daar nog plek op die rak daarvoor? Lamprecht voel baie sterk daaroor.

“Daar was 600 000 soldate tussen 1966 en 1989. Daar moet nog baie stories wees,” vertel hy.

Skaf gerus Bloedbroers aan. Koop hom. Lees hom. Jou mond gaan oophang, en hou die sakdoeke naby.

How to Fix (Unf*ck) a Country – Pragmatism at its best

After a hearty afternoon lunch, Hancu Louw was ready to take the floor with Roy Havemann, author of this book.

After state capture, South Africa is not in a good place. The system is down. How do we reboot it? We are not the first country to find itself in a difficult spot.

In this book, Havemann argues that we need to focus on six basic Es right now: Eskom, education, the environment, exports, ethics and equality.  Sometimes the solutions to our problems are right here in our very own country – all that is needed is for us to recognise and harness them.

De Wet Potgieter en Roy Havemann.

Havemann said the first seed that was planted for him to write the book was one afternoon when stage 6 load-shedding occurred. It was cold – no heaters, batteries dying.

A strong theme of pragmatism—dealing with problems or situations that focus on practical approaches and solutions — runs throughout the book.

Louw asked if Havemann was optimistic about change in our country, and the answer came quickly and confidently…

“Eish! For sure.”

BEELD 50: Om ’n groot storie hard te slaan – Erika de Beer en Barnard Beukman

Die hoogtepunt Saterdag om 15:30 was gewis toe Beeld 50 – Om ’n goeie storie hard te slaan deur samesteller Erika de Beer en Barnard Beukman, Beeld se redakteur, aan die woord was.

Daar was nie ’n plek vir ’n boekwurm, joernalis en/of gesoute mediapersoonlikheid in die kapel nie.

Gewis ’n boek wat deeglik deur goed deurdenkte hoofstukke beweeg. En soos daar ook tereg tydens die gesprek genoem is, is die bekende dagblad wat hy vandag is danksy die joernaliste wat hom oor 50 jaar opgebou het..

Erika de Beer en Barnard Beukman.

Die hartseer feit wat Beukman uitgelig het was dat hulle tydens die beplanning van die boek nie geweet het wat hulle nou weet toe die nuus oor Netwerk24 deurgegee is nie.

“Ek is maar net ’n gas hier aan die tafel. Erika is die hoofrolspeler van die boek,” het Beukman gesê.

Beeld 50 is ‘n vinnig bewegende boek met dié publikasie se ontstaan en geskiedenis – regdeur tot waar die koerant vandag is. Die foute en die suksesse.

Hennie van Deventer en Metzi van der Merwe .

Daar word ook sekere dinge onthul, wat nou eers in die boek uitkom. Tipies koerant – breaking news.

Daar is staaltjies, mooi stories en spotprente.

‘n Uitsonderlike prestasie is dat die samesteller vier maande aan die boek gewerk het, en dit is te danke aan goeie samewerking van al die rolspelers en die samestelling van die boek.

Beukman sê dat hy ook die skryf van die boek se inleiding van die hand gewys het, want soos hy dit stel: “Dit wat Beeld is, is wat joernaliste oor 50 jaar opgebou het.”

Tim du Plessis.

Tim du Plessis het Beukman vir sy groot aandeel in die boek bedank. Beukman het van die begin af op lesers van Beeld ingefokus. Hy het voorsiening gemaak vir die lingses en die regses – dis nie ons koerant nie, dit is die lesers se koerant, het Du Plessis bygevoeg.

21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian Struggle Matters – War after one day of peace

Marthie Momberg, the author, took to the stage and discussed her book.

The world was shaken after the news broke of the Hamas attack on October 7, 2023. Some 1 139 people lost their lives on that day.

A book about 21 voices, told by one voice, Momberg’s. A book about justice, injustice, equality and inequality.

Ronelle Terre’Blanche en Marthie Momberg.

Twenty-one voices with 21 interviews. After all, there was still peace on October 6. And the peace was bombed away in no time.

A lively question session followed.

In short, 21 Voices is about the conversations with 21 activists from South Africa and Israel who campaign for Palestinian rights, shattering perceptions cultivated by widespread propaganda to show that the issue is after all not so difficult to understand.

The voices (interviews) connect the private and the public, the particular and the general, the conceptual and the practical, the local and the global.

One book, 21 voices, told by one voice – a book about love. But what does it mean to love?

Commando – A Boer Journal of the Anglo-Boer War

En so kom alle dinge amper tot ’n einde.

Saterdag 10:00 was geskeduleer vir die laaste hoofstuk van die Boekenaweek, met ’n bespreking met prof. Fransjohan Pretorius se boek, Commando: A Boer Journal of the Anglo-Boer War.

Pretorius het reeds vroeg Sondagoggend uit Pretoria vertrek om betyds vir die besprekings te wees en was daarvoor deur Annemarie van der Walt geloof.

Voor: Prof. Fransjohan Pretorius, Luna en Annemarie van der Walt gesels met Erika Scheepers en Kobus Terblance.

Dit was ‘n lekker loslitboekgesels, en Pretorius sê dat sy pa hom tydens sy st. 3-skooljaar Deneys Reitz se Commando maak lees het.

“Ek het reeds tóé besef hier is iets besonders. Die gees van die Anglo-Boereoorlog is in Commando vasgevang,” het hy vertel.

Die voetnotas is bygesit om meer perspektief op van die gebeure in die boek te gee en die agtergrond te skets.

Gielie Hoffmann en Prof Fransjohan Pretorius.

Hy het ook genoem dat sy primêre bron tydens sy navorsing koerante was, waarop gesoute oudmediapersoonlikheid Tim du Plessis opgestaan het en tereg gesê het: “We write the first draft of history.”

Hoe het Pretorius dit ervaar om die projek aan te pak, was nog ’n vraag uit die gehoor.

“Dit was vir my soos om deur ‘n student se doktorsgraadmanuskrip te gaan en seker te maak alles is reg, vandaar die 433 voetnotas,” het hy vertel.

Sien hy kans om weer ‘n boek aan te pak? “Ek lewe al 75 jaar. Ek wens ek kan nog 30 jaar lewe om te doen wat ek doen,” het die prof in ‘n volgepakte kapel geantwoord.

Dié klassieke werk met voetnotas van Pretorius se 433 byvoegings het gewis die naweek op ’n hoogtepunt afgesluit.

Dit is ‘n klassieke werk, en jy kan jou verlustig in die outeur se voetnotas.

Annemarie van der Walt het die naweek se lekkerleesgenot met die volgende gevleuelde woorde afgesluit:

“Dit is ’n voorreg om Suid-Afrikaanse skrywers van hoogstaande gehalte na die Laeveld te kan bring sodat lesers hul van naderby kan ontmoet. Innibos probeer om boeke (en hul skrywers) uit verskeie genres die blootstelling te gee, en dit skep ’n interessante wisselwerking en gesprekke. Omdat almal – lesers en skrywers – vir ’n naweek lank op Kaapsehoop is, is die groot waarde myns insiens in die ‘durende gesprek’ tussen die formele gesprekke. Wat wel opval is dat die lesers merendeels aan die ouer kant is; soos ook die geval met teatergehore tydens Innibos. Dit bly ’n reuseuitdaging om jonger lesers te lok, en dan praat ek nie soseer van die jeug nie, maar die jongelinge se ouers. Die bywoning was goed (die beskikbare gasteakkommodasie op die dorp was tjok-en-blok), ook danksy Nagkantoor Kuierkroeg se Natsteen vir oudjoernaliste wat die debatvoering stimulerend gemaak het.”

@lowvelder

Annamarie van der Walt, organiseerder van die Innibos Boekenaweek 2024 deel haar sentiment oor die uniekheid van die naweek met Laevelder. #bookstagram #bookfestival

♬ original sound – Lowveld Media

Daarmee word die Boekenaweek dan gesluit en op die rak geplaas, en sien al die boekwurms heelhartig na 2025 se weergawe uit.

Exit mobile version