Toekoms van Onderbergse olifant steeds in die weegskaal

Tswale se eienaars het twee keer in een week aansoek om appèl in die Mpumalanga Hoofgeregshof gebring om dié olifant se toekoms te bepaal.

Vir die tweede keer in vyf dae is ‘n aansoek om appèl om die toekoms van ‘n Onderbergse olifant te probeer verseker, van die Mpumalanga Hooggeregshof se rol geskrap.

In Junie het ‘n bom oor die toekoms van Tswale, ‘n olifant wat die afgelope een en ‘n halwe dekade op die plaas Lowhills aangehou word, losgebars. Twee van die inwoners op die plaas, Johann Moller en Sonell Joubert, die eienaars van die olifant, was respondente in die saak.

LEES OOK: Tswale must be moved, Mbombela High Court orders

Tswale, wat saam met sy hanteerder, Amos Jivendava, op Lowhills gebruik is vir opvoedkundige doeleindes en interaksie met besoekers, se toekoms het in die gedrang gekom toe Shofeeds, die eienaars van die plaas, suksesvol vir ‘n interdik om die dier van die plaas te verwyder, aansoek gedoen het.

Die hof het in Mei Shofeeds se aansoek aangehoor waarin hulle aangevoer het die dier se teenwoordigheid op die plaas skep onder meer ‘n gevaar dat mense beseer of selfs gedood kan word. Shofeeds het voorts gesê hulle is nie bereid om regsaanspreeklik gehou te word in so ‘n geval nie.

LEES OOK: ‘Geraamtes’ wat begrawe is dreig om op Facebook uit te klim

In Junie het die regter Shofeeds gelyk gegee en beveel dat die dier binne sewe dae verwyder moes word. Moller en Joubert het egter versuim om aan die hofbevel gehoor te gee. Hulle het verlede Donderdag, 15 Augustus, ‘n aansoek om appèl in die hooggeregshof gebring.

Die saak is egter van die rol geskrap omdat die aansoekers, wat deur Moller verteenwoordig sou word, nie vir die saak opgedaag het nie.

Die saak is egter weer, skynbaar op versoek van Moller, op die hofrol vir Dinsdag, 20 Augustus, geplaas.

Weer eens was die aansoekers nie teenwoordig nie, en is dit wéér van die rol geskrap. Adv. Johnna Kruger, wat namens die Shofeeds verskyn het, het bevestig die saak is van die rol verwyder.

Nie Moller of Joubert het op skriftelike navrae oor hulle wanverskyning gereageer nie.

Exit mobile version