Local news

Innibos nooi alle boekwurms na die tweede boekenaweek

Alle paaie lei binnekort na Kaapsehoop waar boekliefhebbers getrakteer gaan word op van die nuutste pennevrugte op die rak, lekker geselsprogramme en solovertonings van musiek en woorde.

Talle skrywers, joernaliste en lesers se paaie lei binnekort na dié bergdorp in Mpumalanga wanneer die tweede Innibos Boekenaweek van Vrydag 30 Augustus tot Maandag 1 September aangebied sal word.

‘n Hoogtepunt is die eerste en amptelike bekendstelling van Beeld 50: Om ‘n groot storie hard te slaan – ‘n omstrede onderwerp gegewe die moontlike sluiting van dié koerant.

LEES OOK: Moenie die eerste Innibos Boekenaweek op Kaapsehoop misloop nie

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, en Erika de Beer, samesteller van Beeld 50, sal om 15:30 op Saterdag 31 Augustus, onder meer oor die harde werk agter die joernalistieke skerms gesels.

Lesers en boekliefhebbers word verder getrakteer op boeke in ‘n veelvoud van genres: van spannings- en jeugverhale, boeke oor aktuele kwessies, die grensoorlog en geskiedenis.

Die naweek skop Vrydagmiddag, 30 Augustus, af met die kollig op twee Kaapsehopers. Dana Snyman stel sy jongste boek, Seun, bekend, terwyl De Wet Potgieter, die oudjoernalis en eienaar van die Nagkantoor Kuierkroeg op Kaapsehoop se boek, Contraband, die lig op die misdadige smokkelwêreld laat val.

LEES OOK: Waardevolle gesprekke by Innibos Boekenaweek

Chanette Paul.

Lucinda Neethling, ook deel van die groep Die Melktert Kommissie, se solovertoning van musiek en woorde van haar album Uitgeskryf is die aand om 19:00 in die kapel by Silver Mist Gastehuis.

Dana Snyman.

Saterdag 31 Augustus, is ‘n propvol boekprogram wat om 08:00 afskop met die nuutste pennevrug van Pieter Stoffberg, Die beweging van bloed.

LEES OOK: Laevelder Boma-kuierteater kook behoorlik oor tydens Innibos

Die jeugboekskrywers Fanie Viljoen en Constant van Graan gesels daarna oor hul jongste boeke, onderskeidelik Springboekie en Die geheim in die riete.

Sterk vrouekarakters is die kenmerk van romanskrywers Chanette Paul (Anoniem) en Dibi Breytenbach (Heks). Dié twee tree met mekaar in gesprek.

Operasie Sceptic tydens die Grensoorlog kom aan die bod in Deon Lampbrecht se boek Bloedbroers (ook in Engels beskikbaar), terwyl Roy Havemann gesels oor die oplossings wat hy voorstel in sy boek How to Fix a Country.

LEES OOK: IN FOTO’S: Innibos se hoofgereg is bedien, en dit was liplek-lekker!

 

Sondagoggend word die naweek afgesluit met ‘n boekgesprek oor Marthie Momberg se 21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian Struggle Matters en Fransjohan Pretorius oor Commando, die veelgeprese verhaal van Deneys Reitz, waaraan hy onlangs belangrike gegewens bygewerk het.

Lucinda Neethling.

Al die gesprekke (buiten die bekendstelling van Beeld 50) en Lucinda se optrede vind plaas in die kapel by Silver Mist Gastehuis op Kaapsehoop.

Kaartjies is by die deur te koop (slegs kaarttransaksies).

LEES OOK: IN FOTO’S: ‘n Wenresep wat smaak na sukses by Innibos 2024

Lucinda se vertoning kos R150. Die boekgesprekke is R40 elk of koop ‘n naweekpas vir R200.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na annemarie@innibos.co.za.

Back to top button