Feesgangers smul aan Innibos Kunstefees 2024 in Mbombela

Daar was vanjaar nie plek vir 'n kunsmuis tydens die lekkerste kunstefees in die land nie - en Innibos se bywonings syfers staaf dit!

Sowat 75 000 besoekers het vanjaar van 27 tot 30 Junie by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se feestafel aangesit.

En met die spreekwoordelike stof wat skaars gaan lê het, is die feestafel reeds vir volgende jaar gedek.

@lowvelder

Dit is amper feestyd… Voel jy die gees? Want Innibos is reg soos ‘n roer. Luister hier wat Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz te sê het! Hulle produksie, ‘1(een)’, gaan beslis een vir die boeke wees! > Video: Stefan de Villiers #innibos2024 #feesgees #lowveldmedia #cindyswanepoel #artsfestival

♬ original sound – Lowveld Media

 

LEES OOK: IN FOTO’S: ‘n Wenresep wat smaak na sukses by Innibos 2024

Skryf dit in jou dagboek, maak ’n knoop in jou oor, sit ’n reminder op jou selfoon… solank jy net 3 tot 6 Julie 2025 onthou, want dan vier ons weer groot fees in die Laeveld!

LEES OOK: Laevelder Boma-kuierteater kook behoorlik oor tydens Innibos

Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder, sê die kunstefees se bestuur is tevrede en baie dankbaar vir die goeie bywoningsyfer van 2024.

“Die hoofverhoog op die feesterrein was soos altyd ’n groot trekpleister, en daar was elke aand skaars plek vir ’n muis. Die optrede van die Mzanzi Jeugkoor was beslis een van die kersies op die koek tydens die afsluitingskonsert.”

Produksiekaartjies vir toneel, musiekteater en ander vertonings het flink verkoop. Kaartjies vir die leefstylproduksie KOStelik, die ATKV Boeke-crawl op Kaapsehoop, die Musikale Meander en Nataniël se konsert, albei in die Sudwala-grotte, was reeds uitverkoop voor die kunstefees afgeskop het.

@lowvelder

Vir die derde episode van Die kort en die lank, met Laeveld Media se Jana Schlechter en Blake Linder, loop hulle die warmste en bekendste kokke op die Innibos-feesterrein raak. Kyk saam hoe ons ’n draaitjie met Frikkie die Vlieënde Feesvark en sy nefie Frikkadelletjie stap, en sien hoe hulle vir die grootste glimlaggies sorg sover hulle gaan. Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees feesgees innibos Innibos2024

♬ original sound – Lowveld Media – Lowveld Media

LEES OOK: IN FOTO’S: Innibos se hoofgereg is bedien, en dit was liplek-lekker!

Onder die verhoogstukke was die topverkoper die komedie Hospitale, kateters en familielede, met Boys R Back wat eweneens goed bygewoon is. Die drama met Sandra Prinsloo en David Viviers, Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan, se kaartjies het ook goed verkoop, sowel as dié van Die vrou op die dak met Je-Ani Swiegelaar, en Schalk Bezuidenhout se stand-up, Mamma se groot seun.

 

LEES OOK: Omtrent ’n stormloop by Innibos vir Mel se stories

Philna Scholtz, programbestuurder van Innibos, sê goeie komedies kry meestal die grootste aftrek by feesgangers. Die nuwe ATKV- Kuns- en Boeke-oase by Laerskool Nelspruit het ook goeie aftrek gekry, met interessante boekgesprekke en kunsuitstallings wat daar aangebied is.

@lowvelder

Stix Dumisa vermaak tans feesgangers in die Piaza by Innibos. #inniboskunstefees #feesgees #innibos #Innibos2024

♬ original sound – Lowveld Media

Altesaam meer as 250 kunstenaars het vanjaar opgetree, ingesluit akteurs, musikante, skrywers en dansers. Die feesterrein by Hoërskool Bergvlam met sy wye aanbod uitsoekstalletjies, heerlike feeskos en voldag vermaak was soos altyd die hartklop van die fees.

@lowvelder

Die Laevelder Boma-kuierteater is tans gepak tydens Mel die Storieverteller se opvoering. #innibos

♬ original sound – Lowveld Media

Die volgepakte Laevelder Boma Kuierteater, Wingerd Kuiertuin en Woelwaters-kindervenue het hiervan getuig. Die gewilde aandkonserte was eweneens ’n groot sukses. Juanita du Plessis is vanjaar by een van hierdie geleenthede vereer.

@lowvelder

Corli Prinsloo en Leon Gropp (beide van OntbytSAKE-faam) gaan die gehoor om 12:00 op ‘n kragtoer neem met ‘n pittige vertoning van kos, komedie en kuns tydens hulle produksie, KOStelik, by Fleur de Lis by Hoërskool Nelspruit. #Innibos2024 #ontbytsake #corliprinsloo #leongropp #kostelik #artistsoftiktok

♬ original sound – Lowveld Media

 

Volgens Andy Lubbe, ’n feesdirekteur, bly dit ’n uitdaging om ’n kunstefees van hoogstaande gehalte in knap ekonomiese tye aan te bied.

“Innibos is by uitstek ook ’n familiefees wat vermaak aan so ’n wyd moontlike gehoor wil aanbied. Dit is moontlik danksy die ondersteuning van die ganse Laeveldse gemeenskap, borge, diensverskaffers en vanselfsprekend die entoesiastiese feesgangers.”

______________________________________________________________________________________________________________________________________

Onthou, nog ’n datum om te dagboek is Innibos se Boekenaweek. Skrywers, boeke, gesprekke oor ’n glas wyn wat jou aan die dink sit… dit alles gebeur op Kaapschehoop tussen 30 Augustus en 1 September.

Dana Snyman se nuwe boek, Seun, Chanette Paul se Anoniem, Dibi Breytenbach se Heks, Roy Havemann se How to Fix a Country, De Wet Potgieter se Contraband, Deon Lamprecht se Bloedbroers/Blood Brothers en ander word vrygestel en bespreek.

Dit is ook die amptelike bekendstelling van Beeld50 – Om ’n storie hard te slaan, met Barnard Beukman en Erika de Beer. ’n Volledige program sal binnekort uitgereik word.

  ___________________________________________________________________________________________________________________________________

KLIK HIER: Muskiet is die amptelike Innibos-feeskoerant. Klik hieronder as jy deur 2023/2024 se uitgawes wil blaai of dit wil aflaai.

Exit mobile version