Lydenburg-kleuterskool spog nou met Rooi Bus se perdjies

Die kleuters van Kinderland Boutique Kleuterskool kon nie wag om elkeen 'n beurt te kry om die perdjies van nader te beskou nie.

Die ikoniese Rooi Bus se perdemallemeule het onlangs ‘n nuwe tuiste by Kinderland Boutique Kleuterskool gevind.

Die bus se perdjies was vir jare sinoniem met die voormalige eetplek, De Juffrouens, op die hoek van Kerk- en Burgerstraat.

Sedert dié restaurant sy deure gesluit het, het die perdjies steeds in hulle mallemeulesirkel verlate op dié perseel gepronk.

Dit is nie seker waar die perdjies vandaan kom en hoekom hulle by die bus staangemaak is nie, maar dié struktuur was vir seker ‘n trekpleister tydens die eetplek se bestaan.

Die Rooi Bus se perdjies pronk nou by Kinderland kleuterskool.

Al het hulle nooit soos ‘n regte mallemeule in die ronde gedraai nie, was dit nog steeds ‘n groot gunsteling onder inwoners en toeriste en is daar al menige foto’s, deur oud en jonk met hulle geneem.

Die besluit om die perdjies aan die Kinderland Boutique Kleuterskool te borg, merk ‘n nuwe hoofstuk in sy geskiedenis. Dié kleuterskool, bekend vir sy toewyding om kreatiwiteit en verbeelding by jong kinders te koester, het die perdjies as ‘n perfekte toevoeging tot sy buitespeelarea gesien.

“Ons is verheug om die perdjies by ons kleuterskool te verwelkom,” het Liese Broekman, die hoof, gesê. “Dit beliggaam die gees van pret en avontuur wat ons poog om in ons kinders te kweek. Dit is ‘n simbool van kinderjare, wonder en onskuld.”

Die borgskap van die perdjies is deur Jenny Lynn Riley en Lobke Bossert, die voormalige eienaars van Imbali Garden Centre regoor die bus, moontlik gemaak. Die egpaar het die mallemeule na De Juffrouens se sluiting bekom.

Die kwekery is ook onlangs verkoop, en daar is toe besluit om die perdjies ‘n tweede kans te gee – as deel van ‘n opvoedkundige instansie.

Die drie perde is self deur Broekman en R&P Paneelkloppers gerestoureer ná jare se verniel in wind en weer.

Vir die kinders was die koms van die perde niks minder as magies nie.

Volgens Broekman het die eenvoudige plesier om mallemeuleperdjies te ry diep aanklank by Kinderland se kinders gevind, in ‘n wêreld waar tegnologie dikwels speeltyd oorheers.

Exit mobile version