Local news

Jong rugbytalent van Lydenburg vir nasionale Bokkie-span

Rugby klop in dié loskopstut se bloed. Lees meer oor hom hier.

Andreas Smith, ‘n 14-jarige van dié dorp, het onlangs sy plek in die nasionale Bokkie-duikerspan losgespeel.

Andreas, wat tydens die uiters mededingende nasionale Bokkieweek vanaf 24 tot 28 Junie in Kroonstad gekies is, het nou sy visier daarop gerig om Suid-Afrika op ‘n internasionale verhoog te verteenwoordig.

Hy is ‘n leerder by die CVO-skool in Lydenburg.

LEES OOK: Lydenburg-kleuterskool spog nou met Rooi Bus se perdjies

Die Bokkie-spanne is ‘n gesogte platform vir jong rugbyspelers wat poog om opkomende talent regoor die land te kweek en ten toon te stel. Vir Andreas is hierdie geleentheid nie net ‘n erkenning van sy vaardigheid nie, maar ‘n trappie nader aan sy drome.

Die pad om sy droom te verwesenlik is egter nie sonder uitdagings nie. Andreas benodig finansiële ondersteuning ten bedrae van R22 850 om aan die komende Bokkie-rugbytoer na Namibië deel te neem.

Die toer is geskeduleer om vanaf 22 tot 29 September plaas te vind.

Die finansiële vereiste dek verskeie aspekte wat deurslaggewend is, insluitende reiskoste, verblyf, etes en toernooifooie. Ten spyte van die opgewondenheid om gekies te word, staan Andreas en sy gesin voor ‘n uitdagende taak om die nodige fondse in te samel.

Sy pa, Johan, doen dus ‘n beroep op die gemeenskap om Andreas op welke wyse ook al te ondersteun.

Dit is geen wonder rugby is Andreas se keuse as uitblinksport nie. Rugby klop in dié loskopstut se bloed. Hy is immers familie van Kwagga Smith, die Springbok-rugbyspeler.

Vir meer inligting en om betrokke by die verwesenliking van Andreas se rugbydroom te word, kan Johan by 082 486 8377 geskakel word.

Back to top button