NG Moedergemeente Lydenburg bied musiekaand saam met Bernice West aan

Die NG Kerk in Lydenburg gaan vanjaar gróót makietie hou met sy basaar en nooi almal uit om saam te kom kuier.

As die naam bekend lyk en die stem jou bekoor, kan dit niemand anders as die sanger en liedjieskrywer van Swartruggens wees nie.

Bernice West, wat geen bekendstelling nodig het nie, gaan eerskomende Vrydagaand optree en bewys waarom sy as ’n uitstekende opkomende sanger bestempel word.

Die NG Moedergemeente Lydenburg trek dié jaar ’n nuwe baadjie aan vir sy jaarlikse basaar en West sal Vrydagaand, 26 Julie, by Hoërskool Lydenburg se A-veld optree. Die optrede se naam is gepas: Loofland.

Die kerk nooi die hele gemeenskap uit om dié musiekskouspel saam met hulle te kom geniet.

West het aanvanklik bekendheid verwerf as die naaswenner van kykNET se Maak My Famous-program en was ook deel van Hoërskool Rustenburg se koor se “Bohemian Rhapsody”-musiekvideo.

Also read: Lydenburg karatekas earn black belts

Dié musiekvideo het groot opslae gemaak en tesame met Maak My Famous het dié talentvolle jong kunstenaar waarlik haar stempel in die bedryf afgedruk.

Haar unieke styl en asemrowende stem gaan jou verras en word gesien as die volgende stap in die evolusie van Afrikaanse pop-musiek.

Nie net sal West toeskouers met haar optrede bederf nie, maar die geleentheid bied ook hope kosstalletjies en kindervermaak aan wat beloof om ’n heerlike geleentheid vir oud en jonk te wees.

Kaartjies is beskikbaar by die NG Moedergemeente se kerkkantoor en by Sugar & Spice (Hoërskool Lydenburg se snoepie) teen slegs R100 vir skoolkinders en R150 vir volwassenes.

Kry jou kaartjies nou om teleurstelling te voorkom. Skakel die kerkkantoor by 076 783 9673 vir meer inligting.

Exit mobile version