Vier Laeveldse leerdersterre keer terug Mbombela toe

Mbombela verwelkom hierdie leerders terug na die voltooiing van die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles.

Die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste (WCOPA) is ’n internasionale kompetisie vir dansers, sangers, akteurs, modelle en instrumentaliste, en het vanjaar vanaf 28 Junie tot 7 Julie by The Westin in Los Angeles plaasgevind.

Hier neem kunstenaars uit 28 lande, waaronder die VSA, Roemenië, Australië, Duitsland, Nederland, Frankryk en Kanada, deel, waar hulle brons, silwer en goue medaljes kan verower en boonop die kans staan om as algehele kampioene in hul afdelings gekroon te word.

Agter: Ronel en Mia Basson en Frances van Niekerk. Voor: Noelé Joubert en Chriské Schwirzer.
> Foto’s: Verskaf/Jana Claassens

Die beoordelaars is almal bedryfspesialiste wat selfs in Hollywood werksaam is. Dit is ’n besondere geleentheid waardeur opkomende kunstenaars hul drome kan bewaarheid.

LEES OOK: Young models qualify for SA champs

Vanjaar het vier talentvolle leerders van Mbombela hierdie prestigeryke kompetisie bygewoon, en het uitstekende prestasies gelewer.

Anke Strydom met haar medaljes. > Foto’s: Verskaf/Jean Strydom

Ronel Basson het die kampioenskap vir die 2024 Senior Akteur van die Wêreld na Suid-Afrika toe teruggebring. Sy het ’n indrukwekkende versameling toekennings verwerf, insluitende twee afdelingkampioentrofeë vir haar kontemporêre toneelspelduet, twee silwer medaljes vir toneelspel op TV en dramatiese toneelspel, ’n brons vir komiese toneelspel, en is ’n goue finalistemedalje.

Chriské Schwirzer.

Ronel het ook beurse vir verdere opleiding aan die New York Film Academy en die New York Conservatory of Dramatic Arts ontvang.

Haar duetmaat en suster, Mia, het ook sukses behaal met ’n goud in toneelspel op TV en het tot die halfeindstryd van die kompetisie deurgedring.

Ronéll Joubert by Me MWI Internasionaal. > Foto: Verskaf/Ronéll Joubert

Die Basson-susters het ’n goue medalje vir hul kontemporêre toneelspelduet verower en deel die titel van afdelingkampioen vir hul uitmuntende optrede.

Hulle ma, Petra, sê: “Hulle het baie hard gewerk en met geloof en guns van God dit vermag.”

Frances van Niekerk, drama-afrigter by Finesse Drama Studio, werk al met dié susters vandat hulle ses jaar oud is en glo dat vanjaar een van die Suid-Afrika-kampioenskappe, SACOPA, se mees suksesvolle jare was.

“Daar was soveel ongelooflike talent, soveel lande en soveel nuwe vriende,” sê sy by.

Volgens Jana Claassens, SACOPA se Mpumalanga-direkteur, was die Bassons twee van die vier plaaslike uitblinkers by die kompetisie.

Laerskool Nelspruit se Anke Strydom en Curro Nelspruit se Chriské Schwirzer het self uitstekende prestasies en toekennings verdien.

Anke het ’n indrukwekkende vertoning gelewer, wat goud in beide toneelspel vir TV en kontemporêre toneelspel tot gevolg gehad het.

Daarbenewens het sy silwer behaal in oopkategorietoneelspel en brons in komiese toneelspel en swemkleremodellering.

Haar deelname aan modellering was ’n onverwagte besluit, maar haar verstommende uitvoering het verskeie deure vir haar binne modellering oopgemaak. Anke het nie voorheen formele afrigting gehad nie, maar sy het steeds ’n wonderlike prestasie gelewer. Sy is nou by Jacques Lombard en Ronéll Joubert se Timeless Modelling and Deportment Academy ingeskryf.

Lombard en Ronéll het Noelé Joubert van Pretoria, oorsproklik van Rhenosterhoek, Mpumalanga, ook as Chriské se mentor Los Angeles toe gestuur. “Aanvaklik was Noelé se deelname nie beplan nie, maar die organiseerders het gevra of sy ook Suid-Afrika sal kan verteenwoordig,” sê hy met trots.

Ronéll is Timeless Modelling and Deportment Academy se modelleringafrigter. Sy is ook Noelé se ma. Noelé sê dat haar ma se tyd en moeite in haar afrigting verseker dat elke model op verhoog kan presteer soos hulle doen.

Ronéll is al 31 jaar in die modelleringbedryf en het al baie modelle afgerig om nasionale en internasionale titels te wen. Sy het ook verkeie titels onder haar naam, onder meer Me. Toerisme Suid-Afrika, Me. MWI Suid-Afrika en Me MWI Internasionaal.

Alhoewel Noelé se deelname ietwat onverwags was, is sy die algehele afdelingwenner vir drie iems, gemaklike drag, swemklere en formeel. Sy het die beste uit al die Suid-Afrikaanse modelle gevaar.

Sy het in al haar items medaljes gewen, insluitend twee goud vir modellering in swemklere en aandrag, sy het ook silwer vir gemaklikedragmodellering verower.

Die jonge Chriské het goud vir gemaklike drag en swemklere verower. Sy het verder silwer in aanddrag en fotografie en ’n brons vir woordvoerdermodelwerk gekry.

Dié modelpaar, Noelé en Chriské, het ook twee van die drie top modelle ter wêreld se posisies ingeneem.

Hulle het albei spesiale goud en silwer ontvang, omdat hulle as halfeindstrydfinaliste en ook finaliste vir die modelwerkvertoning gekies is.

Chriské het ook aan sang deelgeneem, wat verskeie geleenthede vir haar beskikbaar gemaak het. Sy is deur die New York Conservatory for Dramatic Arts gekontak vir potensiële beurse. Die familie is tans in gesprek met hulle. “WCOPA noem hulself die kuns en kultuur se Olimpiese Spele,” sê haar ma, Anjelien.

Volgens Claassens word deelnemers tot die WCOPA bevorder as hulle in die Mpumalanga-oudisies genoeg punte inpalm om na die SACOPA-finaal in Rustenburg toe deur te dring.

As hulle daar goud ontvang of punte van ten minste 90% verdien, word hulle vir die WCOPAspan gekies. Hierdie oudisies het Saterdag plaasgevind. Dertig leerders is vir die provinsiale span gekies, en hulle sal op 20 September aan die finaal by die burgersentrum in Rustenburg deelneem.

Mia, Anke en Chriské vorm deel van die jaar se span wat Mpumalanga by die SACOPA-finaal sal verteenwoordig.

Vir enige verdere inligting, skakel Claassens by 078 911 0454

Exit mobile version