Local news

Vuur by Xai Xai oord: Hengelaars op bote sien hoe huise begin brand

Die brand het altesame 17 huise by twee oorde naby Xai Xai verwoes.

Hengelaars wat uit was op die see vir ‘n visvangkompetisie moes hulle terug haas strand toe ‘n verwoestende vuur by twee oorde in Mosambiek uitgebreek het, met die wete dat hul vroue en kinders daar wag.

East Africa Safaris (EAS), sowat 40km vanaf Xai Xai, het op hul Facebookblad gesê dat 11 van hul wooneenhede verwoes is en dat daar ook ses strandhuise by die aangrensende Chicuanga oord uitgebrand het.

Die vuur het Donderdag uitgebreek terwyl daar ‘n visvangkompetisie aan die gang was.

Bryan Jooste, voorsitter van die Lowveld Angling and Boat Association (Laba), vertel dat daar 16 spanne was wat aan hul jaarlikse klubkampioenskappe by EAS deelgeneem het. Dit was die sesde jaar wat die kompetisie by die oord aangebied is.

Lees ook: Kyk: Laevelders ontruim na vlamme huise in Xai-Xai verswelg

Al die spanne was met bote uit op die see toe hulle die rookwolk teen 10:00 op land gewaar het.

Jooste sê die vuur was op daardie stadium ver van die oord af, waar van hul vroue en kinders agtergebly het. Dinge het egter in ‘n oogwink verkeerd geloop toe die wind waai en op die oord se huise begin afpyl het. Gaste by die oord is aangesê om hul noodsaaklikste items te gryp en te ontruim.

Tonele na die brand by East Africa Safaris wat Donderdag uitgebreek het. Foto: Verskaf.

“Ons kon van die see af sien hoe dinge skielik met ‘n spoed begin skeef loop. Ek het al die bote op die radio laat weet hulle moet dadelik teruggaan strand toe en help waar hulle kan.

“Teen daai tyd was dinge sleg en het die een na die ander huis begin brand,” sê Jooste.

Voertuie en ander waardevolle besittings wat mense kon gryp, is strand toe geneem vir veiligheid.

Jooste vertel hoe die oord se personeel hul bes probeer het om mense se besittings uit huise te red. In baie gevalle het paspoorte en registrasie dokumente vir voertuie en bote in die slag gebly.

“Ons moes staan en toekyk hoe alles afbrand en ons kon niks doen nie. Daar is sewe van ons spanne wat na die brand net die klere aan hul lywe oorgehad het,” sê Jooste.

Jooste sê kenmerkend van Suid Afrikaners het almal soos een man saamgestaan om te help, planne te maak, en om te troos waar die trane vlak gesit het.

EAS het gesorg vir aandete en daar is saam gebraai om planne te beraam oor die terugkeer Suid Afrika toe. Die oord kon akkommodasie by aangrensende oorde kry vir hul gaste, omdat daar by EAS nie water of krag was nie, en smeulende bome dit te gevaarlik gemaak het om in die oorblywende eenhede te oornag.

Die oord het op Facebook gesê dat hulle strand kamp, Casa Ilala, drie chalets en agt eenhede waarin twee persone kan slaap, sowel as hulle restaurant ongedeerd is.

Jooste was vol lof vir EAS se eienaars en personeel. Daar is die volgende oggend reëlings getref vir die polisie om mense sonder paspoorte te help wat oor die grens moes gaan.

“Ons wil vir Yolanda, Wessel en Phillip bedank vir wat hulle vir ons gedoen het na die brand. Daar lê baie werk voor vir hulle om die gedeelte van die lodge oor te bou en ons harte gaan uit na hulle,” sê Jooste.

“As hierdie vuur in die nag uitgebreek het en ons almal was in ons huise en al ons bote en voertuie was daar, sou dinge baie slegter vir ons uitgewerk het,” sê Jooste.

Hy sê dat niemand seergekry het in die voorval nie.

Die oorsaak van die brand is tans onbekend.

Back to top button