Local news

Kyk: Laevelders ontruim na vlamme huise in Xai-Xai verswelg

Die voorval wat tydens 'n immergewilde visvangkompetisie plaasgevind het, is deur 'n ooggetuie as 'n toneel uit 'n riller beskryf.

Chaos het gister uitgebreek toe ’n brand by East Africa Safaris in Mosambiek die oord verswelg het. Vakansiegangers, waaronder talle Laevelders wat daar was vir ’n visvangkompetisie, moes na die strand vlug om die vlamme te ontsnap.

Die oord is sowat 40 km noord van Xai-Xai geleë, en was die tuiste van nagenoeg 15 spanne hengelaars van onder meer Witrivier, Mbombela en die Onderberg. Dit is nog nie bekend hoeveel huise in die slag gebly het nie.

Die kompetisie, aangebied deur die Lowveld Angling and Boat Association (Laba), is immergewild onder plaaslike diepseehengelaars. Dit het Maandag afgeskop en sou vandag tot ’n einde kom.

Gister, dag vier van die kompetisie, het in ’n nagmerrie ontaard met ’n donker rookwolk in die lug wat kilometers ver gesien kon word na die vuur ontstaan het.

’n Ooggetuie het die voorval as ‘absolute chaos’ beskryf.

Morné J. Kruger, beter bekend as die voormalige radiopersoonlikheid Morné JK, het saam met sy lewensmaat, Daniel van der Walt, die sosialemediadekking en klank by die byeenkoms behartig.

Hy het vertel hoe hy en Van der Walt die middag in hulle kamer ontspan het terwyl die deelnemers ná onweer vroeër die week uiteindelik weer op die water kon uitgaan.

Dié rustige middag het in ’n oogwink in paniek ontaard.

“Ons is omstreeks 13:00 wakker geklop en meegedeel dat ons moet ontruim,” sê Kruger.

“Alles is aan die brand – ons moet move!” was sy ma, Magda, se woorde toe sy hom ná vele onsuksesvolle pogings kon skakel.

Bote en vakansiegangers moes op die strand skuiling soek om die vlamme te ontsnap. Foto: Verskaf/Morne Kruger.

 

Sy was een van die talle vroue wat hulle familielede na die kompetisie vergesel het en ten tye daarvan by die kamp ontspan het. Volgens Kruger was daar ook baie kinders by die oord.

“Ek het gegryp wat ek kon, maar naderhand kon ons niks meer red nie. Alles was in vlamme verswelg,” vertel hy.

Hy onthou hoe mense holderstebolder geskarrel het om besittings soos paspoorte en honderde duisende rande se visgerei te probeer red.

“Verskeie mense het slegs die klere aan hulle lywe oor. Van die die huise is platgebrand. Daar is niks oor nie.”

Kruger, Van der Walt en talle ander het onwillekeurige helde geword.

“Ons het ons alleterreinvoertuig ingespan om op en af te ry om vroue, kinders en voertuie weg van die vlamme af op die strand te kry.”

@lowvelderFire at East Africa Safaris People partaking in a fishing competition hosted at East Africa Safaris were shocked to return to the lodge after a day at sea and find their accommodation up in flames.♬ original sound – Lowveld Media

“Daar was ’n reusespanpoging. Werkers van die oord het ingespring en soveel as moontlik probeer red, terwyl ander op tweerigtingradios koördineer het. Soos ons duin op en duin af gery het, het ons mense wat na veiligheid gevlug het opgelaai en strand toe gevat,” sê Kruger.

Hy beskryf dit as ’n toneel uit ’n riller en sê dat almal in sowat ’n halfuur na veiligheid geneem is.

Die kompetisiedeelnemers het kort daarna van die see af begin terugkeer en moes hulpeloos toekyk hoe vlamme die oord verswelg.

Ten tye van publikasie kon die eienaar van East Africa Safaris nie vir kommentaar bereik word nie.

@lowvelder Blaze at East Africa Safaris People rushed to the beach to escape the flames after a fire broke out at East Africa Safaris in Mozambique. #eastafricasafari #Fire #beach #emergency ♬ original sound – Lowveld Media

Volgens Kruger is die eienaars tans besig om van die deelnemers en hulle families by Xai-Xai se polisiestasie te help om die nodige dokumentasie te bekom om na Suid-Afrika toe terug te keer.

Daar is op hierdie stadium nog geen beraming van die skade nie.

Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die oorsaak van die vuur is nog nie bevestig nie.

Die Laba-voorsitter, Bryan Jooste, het onderneem om op ’n latere stadium meer inligting te verskaf.

*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Hou gerus ons webblad dop vir opvolgberigte.

Het jy meer inligting oor hierdie storie? Stuur ‘n e-pos aan die Laevelder redakteur, Stefan de Villiers, by stefan@lowvelder.co.za

 

Back to top button