Local news

Innibos kook al wéér

Vanjaar se kunstefees, tussen 27 en 30 Junie, was weer eens 'n reusesukses en het gesorg dat die feesgangers en inwoners van Mbombela die aaklige nasmaak van Covid-19 met 'n wenresep weggespoel het.

Mmm… proe jy dit? Dít is die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, wat nou te danke aan ‘n wenresep wat skrik vir niks weer smaak soos dit moet! Die bitter nasmaak wat Covid-19 agtergelaat het, is deur ‘n golf feesgangers van heinde en ver uitgespoel.

Dit is die sentimente van nie net die hordes feesgangers nie, maar van die feesdireksie self. Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder, kon nie haar blydskap met hoe vanjaar se fees afgeloop het wegsteek nie, aangesien die bywoningsyfers in vergelyking met dié van 2023 verbeter het. “Dit is geweldig verblydend dat die fees terug by pre-Covid-syfers is in terme van daaglikse bywoning,” het sy gesê.

Sy dui ook aan hoe trots sy is dat die fees nog nét so relevant is as 20 jaar gelede toe sy en Andy Lubbe dit gestig het. “Van die eerste jaar tot nou toe het die fees relevant gebly. Ons het heeltyd verander en aangepas, en dit sorg dat ons nog aansterk.”

LEES OOK: We Care 4 Nelspruit keeps the city clean for Innibos visitors

Iets waaroor Jacobs baie tevrede is, is hoe gewild die nismarkproduksies vanjaar was. “Nataniël, KOStelik, die Musikale Meander en die Boeke-crawl… alles was uitverkoop.”

Jacobs het ook ander geleenthede uitgewys wat gewild was, onder andere Schalk Bezuidenhout se Mamma se grootste seun, Sandra Prinsloo se Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan, en Valiant Swart en Koos Kombuis se gekombineerde optrede.

Maar die mees gewilde een was Hospitale, kateters en familielede, wat vanjaar geskiedenis gemaak het. “Dit is die eerste debuutproduksie in die geskiedenis van Innibos om die top verkopende een te word,” het Jacobs vertel.

LEES OOK: Bibberweer of te not: Innibos se wenresep word vuurwarm opgedis

‘n Aspek van die fees wat vir Jacobs en haar medeorganiseerders baie belangrik is, is die samehorigheid van die feesgangers. “Kunste en sport is ‘n baie belangrike manier om mense in ons land saam te trek, en ons wil dit doen deur hulle met Afrikaans bymekaar te bring,” het sy gesê. Sy het ook haar dankbaarheid teenoor al die feesgangers en die borge wat die fees moontlik gemaak het, uitgespreek.

Buite die bestek van die produksies het al die optredes op die hoofverhoog en kuierverhoë ook ‘n magdom mense betrek. Elke aand het die gehoor om die hoofverhoog net al hoe groter geword, en teen Saterdag was daar nie ‘n enkele oop kol gras of ‘n oop stuk paviljoen nie.

Elke stoel en elke bankie is Saterdagaand volgepak vir die kykNET Konsert, en die hordes mense het hulself ten volle geniet met elke musikant en sanger wat opgetree het. Die finale syfers van die hoeveelheid mense wat bygewoon het was ongelukkig nie teen die ter perse gaan beskikbaar nie.

LEES OOK: IN FOTO’S: Innibos se hoofgereg is bedien, en dit was liplek-lekker!

Nog ‘n belangrike aspek van die fees wat uitstaan is die impak op die plaaslike ekonomie. Die hoof- uitvoerende beampte van die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad, Mduduzi Vilakazi, het dit tydens ‘n stappie om die feesterrein uitgelig.

“Hierdie is Mpumalanga se grootste geleentheid, want dit sluit kultuur, kuns én toerisme in. Dit versterk die provinsie se ekonomie met 50% en is ‘n uitsonderlike ervaring vir toeriste. Beide die dag- en aandgeleenthede het duisende mense betrek, so daar was iets vir almal om te geniet. Ons is lief vir hoe die talentvolle mense van ons Reënboognasie saamgekom het om tot die fees by te dra,” het hy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button