Local news

Skietvoorval waarin 9-jarige in Witrivier gewond is, word onopgelos gesluit

Op Oukersdag 2023 is Johann Slabbert onverklaarbaar deur die kop geskiet. Hy is tans sterk op die herstelpad, alhoewel die beweerde inbreker steeds op vrye voet is.

Die saak van poging tot moord waartydens die negejarige Johann Slabbert die dag voor Kersfees deur die kop geskiet is, is van die baan.

Die Slabbert-gesin, pa Gottfried, ma Alecia, Johann en sy twee ouer boeties, Ludwig (14) en Henrico (13), was op die punt om met vakansie te gaan toe die tragiese voorval gebeur het.

Die drie seuns was alleen by die huis. Hulle het glo ‘n geraas buite die gesin se Essenhoutstraat-woning gehoor. Die twee ouer seuns het glo ondersoek gaan instel.

Hulle het glo ‘n skoot hoor klap en in die huis op die bloeiende Johann afgekom. Hy is op ‘n onverklaarbare wyse deur ‘n projektiel van ‘n 9 mm-pistool in die kop getref. Die koeël het Johann skuins in die linkervoorkop getref en is agter by die skedel uit.

Lees ook: Laevelders geniet langarmdans by Oewersig-saal

“Dit was ‘n Godswonder dat die projektiel nie sy brein getref het nie,” het Alecia destyds gesê.

Die seuns het aan die polisie gesê dat daar glo ‘n inbreker in die huis tydens die skietery was. ‘n Grootskaalse soekery is ná die voorval deur die gemeenskap van stapel gestuur.

Intussen het Johann baie goed herstel, sê Alecia. “Sy terapie vorder wonderbaarlik. Hy gaan tans nog net twee dae per week skool toe, maar sal in die laaste kwartaal dit weer voltyds bywoon.”

Die polisie het egter 12 April besluit om die ondersoek te staak en die saak te sluit. Kol. Donald Mdhluli, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die saak is onopgelos gesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button