Local news

IN FOTO’S: Laeveld-kunstenaar BIA stel enkelsnit bekend

Dié nuweling op die Laeveldse musiektoneel, BIA, het onlangs haar enkelsnit, "Vlekkie in my nekkie", bekendgestel. Sy vertel wat die inspirasie vir dié treffer was en die betekenis agter die lirieke.

Die bekendstelling van die Laeveld se eie BIA se nuwe enkelsnit, “Vlekkie in my nekkie”, het verlede Donderdagaand, 28 Maart, plaasgevind, en sodra jy dit hoor sal jy nie kan ophou om dit saam te sing nie.

Tydens ‘n intieme geleentheid vir familie en vriende by Jock Pub & Grill is die liedjie en die musiekvideo, wat by Mustangs – The Dancing Place geskiet is, bekendgestel.

Bianca Swift, ‘BIA’, wat op 5 April haar 19de verjaardag vier, sê dat sy voorheen ‘n lekker aand saam met vriende gehad het, en dat die gebeure wat die dag daarna gevolg het die inspirasie vir dié enkelsnit is.

> Foto’s: Chelsea Pieterse

LEES OOK: Bekende Laeveldese skrywer en historikus Hans Bornman sterf

“Ek was in matriek en besig om reg te maak vir skool. Ek het ‘n serp om my nek gedra en my ma het gevra: ‘Bianca, dis somer, hoekom dra jy ‘n serp? Het jy dalk ‘n vlekkie in jou nekkie?’ waarop ek laggend geantwoord het dat ek een het.”

Haar ma, Lasea Swift, het aan die einde van 2023 haar aangemoedig om ‘n liedjie hieroor te skryf. BIA het vir Tertius Human van Coolerbox Studios gaan sien, en vir hom gesê dat sy haar eie liedjie wil skryf en haar musiekloopbaan wil begin.

So het die skryfproses met die frase ‘vlekkie in my nekkie’ in gedagte afgeskop, en nie lank daarna het hulle die koorgedeelte vir die liedjie geskryf, waarna die res van die lirieke gevolg het.

“Ek wou ‘n meer positiewe konnotasie aan ‘n lovebite heg. Dit is ‘n herinnering dat jy in die ingewing van ‘n oomblik opgetree het, dis ‘n bewys dat jy ‘n wonderlike aand gehad het en dis ‘n simbool van passie en liefde,” sê sy.

Na sy die liedjie vir die eerste keer gehoor het, was sy uit die veld geslaan. “Die liedjie is catchy en die ritme is wonderlik. Dit het ‘n Meghan Trainor-vibe. Ek dink nie daar is so ‘n genre in Afrikaanse musiek nie, en glo dat ek ‘n nuwe genre daarin geskep het, waaroor ek baie opgewonde is.”

Die skiet van die musiekvideo het slegs ‘n halwe dag geneem. BIA sê sy waardeer die bydraes van elkeen wat deel van die musiekvideo was. Verder sê sy dat sy graag die musiekvideo by Mustangs – The Dancing Place wou verfilm, omdat sy glo ‘n mens daar pret kan hê, en sy hou van al die ligte daar.

Die terugvoer oor haar enkelsnit is tot dusver positief, en aanhangers glo dat die liedjie vanjaar opspraak in die musiekbedryf sal maak, sê BIA.

Wat is die volgende stap vir haar? Sy sê dat sy sal sien waarheen haar musiekloopbaan haar neem.
Die musiekvideo is op Vonk Musiek se YouTube-kanaal te siene.

Back to top button