Local news

KwaZulu-Natal-wildkoper kry sy kwartmiljoen veilig terug ná daar van krokodil niks af kom nie

’n Onaangename voorval het ontstaan toe ’n wildkoper van KwaZulu-Natal nie die reusekrokodil wat hy namens sy kliënte gekoop het, ontvang het nie. Hy het egter sy geld terugbetaal gekry, maar hy meen dit is dié tipe situasie wat wildhandelaars se naam skade laat ly.

Dit was naelskraap of ‘n wildkoper van KwaZulu-Natal was duisende rande kwyt na ‘n kooptransaksie met ‘n wildsmous van Barberton.

Carlo Engelbrecht, wat wildsplase in Noord-Natal en Limpopo besit, spesialiseer in die koop en verkoop van trofeewild. Hy is ook ‘n professionele trofeejagter.

In November 2023 het hy deur middel van sosiale media met Charoline Wepener kontak gemaak nadat sy reusekrokodille te koop aangebied het.

“Sy het gewaarborg dat die ses of sewe reptiele wat sy bemark langer as 5 m lank was,” vertel Engelbrecht.

Wepener, wat saam met haar ma, Rachelle Visagie, wild onder die naam Gametec smous, is glo vir een van hierdie reptiele betaal.

Hierna het ‘probleme’ glo ontstaan toe sy en die krokodil verdwyn het, sê Engelbrecht. Hy het selfs regstappe begin neem om sy geld terug te kry, maar sonder veel sukses.

Lees ook: Redclaw crayfish spreading in Crocodile River in the Kruger National Park

Eers nadat hy verlede Woensdag ‘n beroep op Facebook gedoen het om Wepener te help opspoor, het Visagie na vore gekom om haar dogter uit die pekel te kry.

Engebrecht sê hy is verheug dat Gametec die R375 000 wat hy namens sy kliënt, ‘n oorsese jagter, betaal het, veilig in sy bankrekening terugbetaal het.

“Dit was egter ‘n baie slegte ondervinding, want ons kliënt het vertroue in ons verloor,” sê Engelbrecht. “Suid-Afrika is bitter afhanklik van die trofeejagindustrie vir veral werkskepping en die valuta wat dit genereer. Dis ‘n bedryf wat reeds internasionaal onder die loep is van veral eerstewêreldlande en die ‘Greenies’ wat dit erg onderdruk en uiteindelik wil stopsit.”

Die handel in veral trofeewild in Suid-Afrika is ‘n baie klein bedryf, en alles moontlik moet gedoen word om dit te beskerm, sê Engelbrecht.

Soortgelyke onetiese en oneerlike praktyke móét te alle tye in die kiem gesmoor word, veral in die wild- en jagindustrie. Deur oop en eerlike kommunikasie vanaf die wildvanger en wildsmous na die koper, sou hierdie onaangename insident vermy kon word, meen Engelbrecht.

“In hierdie geval voel die betrokke wildsmouse dat hul naam deur die modder gesleep is. Hulle reputasie is egter nou in hul eie hande. Mits daar nie enige ander kopers soos in die vorige Facebook-plasings negatief reageer nie, sal dit mos bewys dat hulle bo redelike twyfel betroubaar is,” sê Engelbrecht.

Visagie het ‘n WhatsApp-boodskap aan Engelbrecht gestuur.

“Dis reg so… Dan stop al die dreigemente en die posts op al die groepe op FB word verwyder asb. En onthou dat daar steeds diere beskikbaar is. Ons wil graag net vrede hê… daar is genoeg oorlog oral in die wêreld. Ons het nie nodig om te baklei nie, almal probeer net ‘n lewe probeer [sic] maak,” luidens Visagie se boodskap.

Op ‘n vraag vir kommentaar het Wepener gesê: “My kind is in die hospitaal. Ek het nie tyd vir kinderk*k en om stories te skryf nie.”

Back to top button