Local news

Innibos 2024 beloof om ’n wenresep te wees

Die Innibos Laeveld Nasionale Kuntefees sal vanjaar van 27 tot 30 Junie in Mbombela plaasvind. Daar sal ook eksklusiewe kuiertafels voor die hoofverhoog beskikbaar wees.

Die jaarlikse Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela skop dié nuwe feesjaar af met ‘n mengsel van kuns, drama, musiek en gesinsvermaak waaraan feesgangers behoorlik sal kan smul.

Dit is van 27 tot 30 Junie vanjaar.

Dié jaar se feestema is ‘Wenresep’, en van die beste plaaslike musiek, toneelstukke, boekgesprekke en kuns kan te verwagte wees. “Enige resep word ‘n ware wenresep wanneer daar ‘n geheime bestanddeel bygevoeg word, en vir Innibos is dit onteenseglik die feesgangers wat daardie towerkrag verskaf,” sê Sandra Jacobs, die media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. “Innibos bied ook vermaak vir die hele gesin, heeldag lank, met iets vir elke smaak.”

Van die akteurs wat op die verhoog te siene sal wees, sluit in Sandra Prinsloo, Rika Sennett, Cindy Swanepoel, Je-ani Swiegelaar, Jan Hendrik Opperman en Schalk Bezuidenhout.

Die musiekteater bring van die topkunstenaars na die Laeveld, met Nataniël se optrede in die Sudwala-grotte en die uitstaande produksie Mixtape van die liefde met onder andere Jana Cilliers, Anna Davel, Leon Gropp en Laurinda Hofmeyr. Op die feesterrein se hoofverhoog is musieksterre soos Droomsindroom, Dr Victor & the Rasta Rebels, Spoegwolf, Elvis Blue, Francois van Coke, Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld en die Mzansi Youth Choir van talle meer wat gaan optree.

By die ATKV-Boeke-oase by Laerskool Nelspruit behoort die woord aan onder andere Etienne van Heerden, Amore Bekker, dr. Mathews Phosa en Leon van Nierop. Die immergewilde Boekecrawl op Kaapsehoop sal ook weer plaasvind.

Also read: Nelsville resident celebrates a century

Daarby het die Innibos-bestuurspan weer ‘n permanente holte vir die voet gevind, en nêrens anders nie as die ou kantoorruimte in Fauriestraat, Sonpark, waar dit al die jare was. “Ons wou graag weer ‘n ‘adres’ hê wat toeganklik is vir feesgangers nadat ons die kantoorruimte in die Covid-tyd moes opgee, en danksy ‘n sameloop van omstandighede is ons terug waar ons hoort,” sê Andy Lubbe, direkteur van Innibos.

Alle kaartjies is te koop by Ticketpro (ticketpros.co.za). Kaartjieverkope vir die feesterrein en produksies open op Maandag, 8 April. Hektoegang vir 2024 is: Donderdag: R210, Vrydag: R260, Saterdag: R300, Senior burgers: R160. Kleuters en laerskoolkinders se toegang is gratis. Weekkaartjies kos R660.

Daar sal vanjaar eksklusiewe kuiertafels (vir ses mense) voor die hoofverhoog beskikbaar wees vir bespreking. Dié koste is addisioneel tot die hektoegang: Donderdag: R660, Vrydag: R960 en Saterdag: R1 260.

Vir meer inligting, besoek innibos.co.za.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button