Witrivier-hond se skietdood ontlok gemengde reaksies uit gemeenskap

Aanmerkings uit verskeie kampe van die gemeenskap is op sosiale media gedeel ná die wrede dood van die 10-jarige Jack Russell, Seun.

Die Grobler-gesin se 10-jarige Jack Russell, Seun, is op 15 Januarie met ‘n windbuks in sy long geskiet.

Seun lê op ‘n bed en ontspan. > Foto: Facebook/Jacques Grobler

Elizabeth Grobler het daardie oggend net ná 08:00 vir Seun sy lekkergoed gegee. Net voor 09:00 het sy vir Seun voor hulle huis gekry waar hy na sy asem gesnak het. Sy het vir Seun in haar voertuig gelaai en na die werkswinkel gejaag waar haar man, Jacques, werk. Daar het Jacques eers die skietwond ontdek. Seun het om 09:00 sy laaste asem uitgeblaas.

Na sy wrede dood is aanmerkings uit verskeie kampe op sosiale media deur die gemeenskap gedeel.

“Dit is hartseer dat u koerant so ‘n eensydige storie op sy voorblad plaas,” skryf Philip Strydom in sy brief aan Laevelder. “Veral as die feite ooglopend is. Ek myself is ‘n diereliefhebber en groot hondeliefhebber. Die geld wat ek in my lewe aan honde gespandeer het, is eintlik skokkend. As ‘n persoon wat vir sy honde omgegee het, het ek seker gemaak hulle is veilig, die erf is goed toe, en hulle is nie ‘n las vir ander nie. Ons het almal regte, nie net ek nie. Die samelewing waarin is deesdaeword [sic] so mooi saamgevat deur ‘n kennisgewing op die Cricket Club by Ofcolaco se deur: ‘No children under the age of 18 allowed, NOT EVEN YOURS.’ Want ons dink almal ons is spesiaal en uitgesluit by reëls en regulasies. Kyk maar net hoeveel gesonde mense parkeer op gestremde parkering. Om te dink jou hond sal niemand byt nie, mag korrek wees. Maar ‘n persoon wat in ‘n straat loop en nie die hond ken nie, vrees dadelik die dier. En veral ander etniese groepe het ‘n natuurlike vrees vir honde. Dis ons reg om vry sonder vrees ons strate te bewandel. Dis hoekom daar ‘n wet is, wat dit verpligtend maak dat honde buite jou erf op ‘n halsband moet wees. In die artikel verwys julle na, en ek haal aan, ‘geen muur of heining kon seun inkamp nie.’ Dis ‘n duidelike aanduiding dat die hond die buurt geterroriseer het. As hy soos ‘n kind was, sal jy tog seker maak dat jou kind nie in die straat sonder toesig is nie. Dit is beslis nie hoe ek na ‘n kind omsien nie. Met ‘n hond kom ‘n verantwoordelikheid, nie net tot die hond nie, maar ook die regte van die gemeenskap. In my persoonlike opinie het die hond met sy lewe betaal vir die nalatigheid van die eienaar. Die korrekte een wat die pellet moes ontvang het, in my opinie, is die nalatige eienaar. Maar ongelukkig laat die wet en die samelewing dit nog nie toe nie. Baie hartseer, maar pas jou diere op en dink aan ander se regte. Ek hoop in my binneste dat wie ook al die sneller getrek het, dit as ‘n laaste uitweg gedoen het, en nie vir sports of fun nie, want as dit die geval is, is dit uiters laag en gemeen. Iemand meld: ‘moes dit anders hanteer het.’ Nee, meneer, mense is so vol van hulleself deesdae, enige benadering sou tot konflik en suur druiwe gelei het. Ek dink die aksie was dié wat die minste konflik sou veroorsaak het. Solank dit nie uitkom wie dit gedoen het nie. Onthou, soos met alles in die lewe, jou regte stop die oomblik wanneer dit op ander se regte inbreuk begin maak. En nee, ek bly nie in Witrivier nie, maar weet presies waar dit is. Dit het my R25 000 aan prokureursbriewe gekos om ‘n soortgelyke probleem op te los, want die wet en wetstoepassing het gefaal.”

Lees ook: Booswig skiet hondekind van Witrivier dood

“Maak ’n saak teen hom, moet dit nie net los nie. Dit is nie menslik wat hy gedoen het nie,” sê Belinda Venter.

“Dit is so onnodig. Wat is fout met vandag se mense? Geweld maak nie altyd alles beter nie. Jy is ’n lafaard, jy wat die mense se hondekind doodgemaak het. Die wiel draai en jou tyd sal kom.” sê Monique O’Reilly.

“Geen wet en orde in die land meer nie,” sê Bertus Coetzee.

“Karma sal jou kry. Hoop dit is gou en erg vir wat jy aan daardie onskuldige woef gedoen het wat seker net wou speel. ’n Seuntjie se hartjie is stukkend en ’n gesin kry swaar. Hy was hulle kind wat jy vermoor het. Jou dag kom,” sê Annatjie van Rooyen.

Jacques Grobler sê hulle is dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap. Hy beklemtoon dat hy en sy gesin nie die gemeenskap se oortuiging deel dat die booswig moet boet nie. Hy is net ‘n mens en het ‘n fout gemaak, solank hy daaruit leer, sê Jacques. Hy sê hulle mis steeds vir Seun elke dag, maar hulle probeer om aan te beweeg.

Elizabeth en Jacques Grobler saam met Seun. > Foto: Verskaf/Elizabeth Grobler
Exit mobile version