Laerskool Barberton verwelkom nuwe skoolhoof

Robert Naudé oorhanding die leisels oor aan die waarnemende hoof, Rhyno Schilling.

Met die aftrede van die skoolhoof, Robert Naudé, het Rhyno Schilling die leisels as waarnemende hoof van Laerskool Barberton oorgeneem.

Robert Naudé tree na 37 jaar se diens in die onderwys af. >Foto: Verskaf/Lynette Spencer

Naudé het in 1982 sy matriek aan die Hoër Volkskool in Potchefstroom voltooi. Sy onderwysloopbaan begin in 1987 by Dawnview High School as natskei-onderwyser vir gr. 10 tot 12. In 1995 word hy bevorder tot departementshoof van natuurwetenskappe by Hoërskool Barberton, waar hy natuur en skeikunde vir gr. 10 tot 12 gee. In 2004 word hy tot die adjunkhoof bevorder en neem hy ook waar as hoof. Hy kry ‘n hoofpos by Komatipoort Akademie in 2007.

Naudé sê egter as jy eenmaal Barberton se water gedrink het, kom jy altyd terug. In 2013 aanvaar hy die hoofpos by Laerskool Barberton, waar hy diens gedoen het tot en met sy aftrede aan die einde van Desember.

Lees ook: Kaycee staan reg vir die jaar by NHS

Gedurende sy ongeveer 37 jaar in die onderwys was hy ook ‘n gekwalifiseerde atletiek-, rugby-, krieket-, tennis- en skyfskietafrigter. Op provinsiale vlak het hy as rugby- en krieketskeidsregter gedien. Naudé was ook by kultuur-aktiwiteite by die onderskeie skole betrokke.
Volgens hom is dit altyd ‘n ongelooflike ervaring om ‘n kind vanaf kleuter te sien ontwikkel, en bevredigend om hulle te sien groei tot tiener en uiteindelik tot volwassenes wat ‘n wesenlike verskil in die samelewing kan maak. Dit is vir hom vervullend om met jong tot baie ervare onderwysers te werk en te sien hoe diegene vir wie onderwys ‘n passie is en nie net nog ‘n werk nie, onder moeilike omstandighede blom.

Vir hom was dit ‘n reusevoorreg om die skoolgemeenskap, kinders, onderwysers en ouers te kon dien en ‘n verskil te kon maak. “Ek is dankbaar vir elke geleentheid wat onderwys my deur die jare gebied het en vir die Here wat my elke oomblik van my loopbaan bygestaan en gedra het,” sê hy.

Lees ook: Laevelders vier Geloftefees saam

Hy sê dat hy nou baie tyd saam met sy familie gaan bestee en sy houtwerkstokperdjie beoefen, wat tot op hede nie genoeg van sy aandag verdien het nie. Volgens Naudé gaan hy nie heeldag op die stoep sit en wag vir môre is nie – hy gaan ‘n verskil maak.

Schilling dien nou as waarnemende skoolhoof van Laerskool Barberton. Hy het sy onderwysloopbaan in 2004 by Laerskool Ermelo begin, eers as student en toe as gekwalifiseerde onderwyser. Hy en sy gesin verhuis in 2013 na Mbombela toe hy tot ‘n departementshoofpos bevorder word.

Rhyno Schilling dien as waarnemende skoolhoof van Laerskool Barberton.> Foto: Verskaf/Lynette Spencer

In Oktober 2021 word hy tot adjunkhoof van Laerskool Barberton bevorder. Schilling het ‘n sterk agtergrond in sport, en buiten vir die afrigting by die skool rig hy ook die o. 13-Pumas-rugbyspan af.

Volgens hom is ‘n onderwyser se droom dat elke kind sy volle potensiaal met toewyding en integriteit sal uitleef. Elke kind moet daarna streef om hul drome en die lewe met durf en moed aan te pak, sê hy. “Mag elke seun en dogter van Laerskool Barberton geseënd wees, nie net wanneer dit goed gaan nie, maar ook wanneer dit minder goed gaan. Wanneer julle struikel, onthou die lewenslesse wat ‘n onderwyser jou geleer het, en weet dat daar altyd ‘n onderwyser is wat omgee,” het Schilling gesê.

Exit mobile version