Booswig skiet hondekind van Witrivier dood

Die wrede dood van die geliefde 10-jarige Jack Russell, Seun, laat die Grobler-gesin stukkend en die gemeenskap woedend.

“Vir die persoon wat my hond, of Seun soos ons hom ken, geskiet het: Dit was ‘n longskoot, so hy kon darem die huis weer haal om baai te sê. Jammer dat hy by jou kom pla het, maar ons het als probeer om hom binne te hou. Hy was darem10 jaar deel van ons lewe en my kind kon darem vyf jaar met hom speel. So dankie dat jy hom nie in die hart geskiet het nie. Ons kon hom darem nou begrawe, en ek kon darem my familie troos en bystaan deur die proses. Ek glo jy is ‘n groot jagter, en as jy ‘n foto van jou trofee soek, kan jy my kontak, ek sal dit vir jou stuur om by jou ander jagfoto’s te sit. Jy kan ook jou familie laat weet Seun sal nie weer kom pla nie. Baie geluk met jou trofee; dit was ‘n mooi skoot.”
Dit is die hartverskeurende Facebook-plasing van Jacques Grobler, wat Dinsdag 16 Januarie ‘n herrie op sosiale media laat losbars het.

Die Grobler-gesin se Jack Russell, Seun, is op 15 Januarie dood nadat hy met ‘n windbuks in sy long geskiet is. Hulle woon in Kiaatstraat.

Elizabeth Grobler het daardie oggend net ná 08:00 vir Seun sy hondebederfies gegee. Net voor 09:00 het sy vir Seun voor hulle huis gekry waar hy na sy asem gesnak het. Sy het vir Seun in haar voertuig gelaai en na die werkswinkel gejaag waar haar man, Jacques, werk. Daar het Jacques eers die skietwond ontdek. Seun het om 09:00 sy laaste asem uitgeblaas.

Grobler se vyfjarige seuntjie by Seun se graf. > Foto’s: Verskaf/Elizabeth Grobler

Vir Jacques was die moeilikste om vir hulle vyfjarige seuntjie te verduidelik dat sy Jack Russell dood is. Volgens hom het hy snikkend by die huis ingeloop gekom toe hulle vir Seun in die tuin begrawe het. Hy het die hond se komberse en speelgoed bymekaargemaak en saam met hom in die graf geplaas.

Volgens Jacques was Seun welbekend en geliefd in Witrivier.

“As ons iewers heen gery het, het hy die omgewing gaan verken,” sê hy.

Hy sê geen muur of heining kon Seun inkamp nie. Die gemeenskap het hom toegelaat om by hulle te kuier en het hom gereeld by die Groblers kom aflaai.

“Ons harte is stukkend. Hy was ‘n kind in ons huis. Hy was altyd saam met ons, selfs saam met vakansie. Hy het die ringe op ons troue ingebring. Hy het elke jaar op sy verjaardag ‘n geskenk gekry. Hy was 10 jaar vir ons geleen, maar ons was nie reg om hom te verloor nie,” sê Elizabeth.

Elizabeth en Jacques Grobler saam met Seun. > Foto: Verskaf/Elizabeth Grobler

Jacques sê dat hulle nie enige stappe gaan neem om die oortreder vas te trek nie. Hy sê dat hulle nie vir die persoon se familie soveel seer wil veroorsaak soos wat hulle tans beleef nie.

Lees ook: OPVOLG: Kerswonder vir jong skietslagoffer van Witrivier

Dié grusame dood het die gemeenskap geskok.

“So wreed, gemeen en onnodig! Dié wat julle ken, weet dat Seun soos ‘n kind vir julle was. So jammer dat die vieslike mensdom julle harte gebreek het,” skryf Renette Potgieter in die kommentaar op die Facebook-plasing.

“Ek kan nie glo mense is so wreed nie! Dit maak my siek. Daar was soveel ander maniere hoe daardie persoon dinge kon hanteer het, as wat die persoon die ou woef moes skiet. Dit breek my hart om dit te lees,” sê Kayleigh Coetsee.

“So geskok. Jammer oor julle hondekind. Ek sit hier en probeer die trane wegsluk. Stywe drukkie vir elkeen,” skryf Mabel Christine Veale.

“Ai, pelle, vrek jammer. Hulle word ‘n mens se kinders ook,” sê Frank Gottschalk.

Also read: White River boy shot in house robbery

Exit mobile version