Local news

Kaycee staan reg vir die jaar by NHS

Die 15-jarige Kaycee wat in Desember 2023 ernstig in ’n motorbotsing beseer is, is optimisities oor die nuwe skooljaar.

Dié 15-jarige Kaycee Fincham, wat op 26 Desember in ‘n ernstige motorbotsing beseer is, het op 17 Januarie haar gr. 10-skooljaar saam met haar vriende by Hoërskool Nelspruit (NHS) begin.

Kaycee Fincham is gereed om haar gr. 10-skooljaar te begin. > Foto: Verskaf/Kelvin Fincham

Sy was ‘n passasier tydens die motorbotsing naby Letsitele op die berugte R529. Die ongeluk het die lewe van haar tannie, Wendy Oertel, geëis. Hulle was vanaf die ATKV Eiland Spa in ‘n sportnutsvoertuig na die Laeveld onderweg. Volgens Tidimalo Chuene, die woordvoerder van die Limpopo Departement van Vervoer, was Kaycee-hulle ongeveer 30 km van die oord af toe hulle net ná 09:00 trompop met ‘n minibus gebots het.

Lees ook: Laeveld-vrou op haar verjaardag op Limpopo-pad dood

Die botsing het Kaycee met lewensdreigende beserings gelaat, insluitende breuke aan haar kaak en neusholte, krake aan vier van haar werwels, beserings aan haar milt en lewer, en bloeding en vog op haar longe.

Kamea, Kaycee en Joshua Fincham op die eerste skooldag. > Foto: Verskaf/Kelvin Fincham

Sy is op 3 Januarie uit Mediclinic Nelspruit ontslaan. Volgens haar pa, Kelvin, is sy besig om te herstel en gaan dit goed met haar rehabilitasie. Sy hou aan met die oefeninge wat haar fisioterapeut voorgeskryf het. Hy sê ook dat slegs tyd die breuke aan haar kaak, nek, sleutelbeen en voet sal herstel.

Weens die verskeie beserings, sal sy nie vanjaar aan atletiek kan deelneem nie, ten spyte van haar harde oefening in 2023.

Sedert gr. 1 neem sy op die atletiekbaan deel en presteer sy. Sy hardloop om te wen, sê Kelvin.

Alhoewel die skooljaar vir Kaycee moontlike uitdagings inhou, sien sy daarna uit om op akademiese gebied haar keusevakke aan te pak en beoog sy om later vanjaar aan hokkie deel te neem.

 

Lees ook: Kaycee Fincham herstel tuis ná motorongeluk in Limpopo

Kaycee sê dat haar familie, vriende, geloof en ‘n wil om te wen, haar deur hierdie moeilike tyd dra.

Kaycee Fincham is gereed om haar gr. 10-skooljaar te begin. > Foto: Verskaf/Kelvin Fincham

Lees ook: Interhoër 2022: Nellies nog eens stewig op die kruin!

Back to top button