Local news

Laeveld-vrou op haar verjaardag op Limpopo-pad dood

Dié jong ma van Mbombela is Dinsdag naby Letsitele op die berugte R529 dood. Kaycee Fincham, ook van Mbombela, is in dieselfde ongeluk ernstig beseer.

Wendy Oertel (38) se Facebook-tydlyn is Woensdagoggend ’n verwewing van verjaardag- en hartseer afskeidsboodskappe.

Dié jong ma van Mbombela is Dinsdag, op haar verjaardag, in ’n ongeluk naby Letsitele op die berugte R529 dood. Die 15-jarige Kaycee Fincham, ook van Mbombela, is in dieselfde ongeluk beseer, en haar vriend, Heino Meiring (18), wat bestuur het, is lig beseer.

Heino Meiring (18). > Foto: Verskaf/Kelvin Fincham

“Hoe sluit ons hierdie dag af…? Hoe neem mens afskeid van so groot deel van mens se hart en lewe! Jy was altyd daar, met die mooiste bright lippe en die hardste, lekkerste lag! Jy het altyd net gegee sonder om te dink, altyd jouself voor ander geplaas! Jy was altyd die life of the party. Wie gaan nou so hard skree vir die rugby en elke twee minute opstaan van opgewondenheid? Jy los so ongelooflike groot leemte! Ons gaan jou so vreeslik mis! Maar ek glo vanaand [Dinsdag] dat jy jou verjaarsdag so lekker saam met die engele gevier het en beslis ook die life of the party was! My liewe vriendin, dit was so groot voorreg om jou te kon ken en my vriendin te noem! Dankie vir jou liefde en menswees! Ons is so lief vir jou! 26 Desember sal nooit weer dieselfde wees nie! Rus nou in vrede by Jesus se voete,” het onder meer Edean Prinsloo die dag van haar ongeluk op haar Facebook-bladsy geskryf.

Oertel was vanaf die ATKV Eiland Spa in ’n sportnutsvoertuig na die Laeveld onderweg. Op pad sou sy haar seuntjie en dogtertjie by hulle oupa in Sabie, waar hulle Kersdag deurgebring het, oplaai.

Volgens Tidimalo Chuene, woordvoerder van die Limpopo Departement van Vervoer, was Oertel-hulle ongeveer 30 km van die oord af toe hulle net ná 09:00 trompop met ’n minibus gebots het. Oertel, wat glo agter gesit het, is opslag dood.

Die 15-jarige Kaycee Fincham. >Foto: Verskaf/Kelvin Fincham.

Kaycee het na wat verneem word voor in die passasiersitplek gesit.

Volgens haar pa, Kelvin, ook Oertel se swaer, het die impak van die botsing Kaycee met lewensbedreigende beserings gelaat, maar hy sê dat sy goed aansterk.

Hy het bevestig dat sy aanvanklik in Mediclinic Tzaneen opgeneem is, waarna sy gestabiliseer is en na Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid oorgeplaas is.

Sy is tans onder verdowing, in ’n stabiele toestand, met breke aan haar kaak en neusholte, krake aan vier van haar werwels, beserings aan haar milt en lewer, asook bloeding en vog op een van haar longe.

Hy het die Laevelders vir hulle volgehoue ondersteuning en gebede bedank.

LEES OOK: Cyzelle Fincham, Kaycee se ma, het in Oktober 2020 ternouernood aan die dood ontkom toe ’n veldvoertuig waarin sy gery het, omgeslaan het.

Die bestuurder van die minibus, wie se naam nie aan Laevelder bekend is nie, het volgens Chuene geringe beserings opgedoen, terwyl twee insittendes van die minibus, waaronder ’n eenjarige, ook ernstig beseer is.

Hulle toestand is onbekend. Die presiese oorsaak van die ongeluk word deur die polisie op Letsitele ondersoek.

Hoewel dit nie bekend is of die toestand van die R529 verband hou met die ongeluk nie, is dié pad in die Mopani-distrik berug vir sy haglike toestand en tientalle ongelukke.

Talle politiese partye, waaronder die DA en VF Plus, het al ingegryp. Die VF Plus het onlangs in ’n persverklaring gesê dat druk op die Padagentskap van Limpopo (RAL) vrugte afgewerp het, en dat herstelwerk in November begin het.

Dit volg ná talle klagtes van gemeenskappe in die distrik (Tzaneen, Phalaborwa, Gravelotte, Letsitele) ontvang is oor die RAL se ‘swak lapwerk’ aan dié pad.

*Die R529 is ’n streeksroete wat die R81 suid van Giyani met die R71 naby Gravelotte verbind.

In September 1992 het ’n tragedie Nelspruit getref toe ses vroue in ’n motorongeluk oorlede is; 10 kinders, waaronder Oertel, is daardie dag sonder ’n ma gelaat.

Haar ma, Michelle Bronkhorst, is op die ouderdom van 31 jaar oorlede, toe Wendy ses jaar oud was. Bronkhorst, Helen Fourie (42), René Morrison (33), René Blignaut (45), Hettie du Toit (40) en Carin van Rensburg (25) is al ses opslag dood toe die Kombi waarin hulle van Uvongo in KwaZulu-Natal gereis het naby Stanger in ’n trompopbotsting met ’n bakkie betrokke was.

Die toestande was mistig en reënerig. Die vroue was almal deel van die Eskom se Kijat Klub, en was op pad terug van ’n gholftoernooi in die Suidkus.

Lees die volledige berig wat op Laevelder se voorblad verskyn het.

Oertel se pa, Willie, wat vroeër jare aan KaNgwane se Ontvanger van Inkomste-kantoor verbonde was, is ook in 2015, toe sy 29 was, in ’n motorongeluk oorlede.

Die besonderhede rondom Oertel se begrafnis is nog nie bekend nie.

Back to top button