Local newsNews

Papegaai vind ‘n nuwe tuiste in Mbombela na ounooi se moord

Die 35-jarige Krappie het onlangs haar perfekte tuiste gevind, nadat sy die gruwelike moord op haar eienaar moes aanskou het.

‘n African Grey-papegaai wat by was toe haar ounooi (89) in 2016 wreed in Orkney in Noordwes vermoor is, verskaf nou hope vermaak vir die besoekers aan die plaaslike Montana Garden & Pet Pavilion.

Jan Rheeders het Annatjie Kruger op Moedersdag (8 Mei) daardie jaar aangeval.

Lees ook: Kunssinnig en kreatief by die Innibos Kersmark

Die 35-jarige voël, Krappie, moes ‘n nuwe heenkome vind.

Aanvanklik het Thea Pringle, Kruger se dogter, vir Krappie onder haar vlerk geneem, maar nie sy of haar dogter, Amor Adlam, kon haar ‘n tuiste gee nie, aangesien beide katte as troeteldiere het.

Thea het vroeër jare met papegaaie geteel en só ‘n goeie verhouding met Montana gesmee.

Dit het Krappie se perfekte tuiste geword.

Sy was erg getraumatiseerd toe sy daar aankom, sê Charmaine van Niekerk, Montana se bestuurder.

Sy vertel dat Krappie reeds sewe jaar deel van die Montana-familie is, en dat sy dolgelukkig is.

Ná die voorval hou Krappie steeds nie daarvan om in haar hok te bly nie, en word sy die geleentheid gegee om vrylik in die winkel rond te loop.

Lees ook: Kersloffees wy die feestyd in Mbombela in

Krappie hou van gesels en word gereeld deur Kruger se familie en vriende besoek.

Besoekers, veral mans met swart skoene, ontstel haar egter geweldig.

Familie en vriende word tydens hulle besoeke aan Krappie herken, en sy groet hulle in haar ounooi se stemtoon.

Krappie sê graag frases soos: “Mammie kom nou-nou…” en “Wil jy bietjie koffie hê?”

Kruger en Rheeders het mekaar goed geken en het in dieselfde kompleks in Orkney gewoon.

Op 8 Mei 2016 is Kruger dood in haar huis aangetref.

Lees ook: Beweerde swendelaar van Marlothpark in die hof

Rheeders is 15 jaar tronkstraf vir roof en huisbraak opgelê, asook 10 jaar vir dwarsboming van die gereg en kwaadwillige saakbeskadiging.

Die vonnise word gelyklopend met die lewenslange moordvonnis uitgedien.

Ben Pringle, ‘n familielid van Annatjie Kruger, besoek Krappie by Montana. Foto’s: Verskaf/Amor Adlam
Back to top button