Kunssinnig en kreatief by die Innibos Kersmark

’n Verskeidenheid kuns- en handwerkwerkswinkels is tydens dié Kersmark by Nitali Re-Invented Decor in Mbombela aangebied.

Die Innibos Kersmark, aangebied deur Nitali Re-Invented Decor, het die stad van 6 tot 9 Desember rooi geverf met sy pret, innoverende doen-dit-self-werkswinkels.

Dié werkswinkels het gestrek van blommekrone maak, met leer en klei werk en selfs die kuns van kerse maak ondersoek. Watter een jy ook al bygewoon het, dit was vir seker die perfekte tydverdryf vir die kreatiewe siele in ons midde!

“Hoe wonderlik is dit nie om ‘n nuwe vaardigheid aan te leer nie! Ons het sulke talentvolle kunstenaars en kreatiewe mense in die Laeveld,” vertel Nitali se Sonette de Beer. “Of jy dit vir ‘n stokperdjie doen of selfs woeker om ekstra geld te kan verdien, niemand kan dit van jou wegneem nie.”

De Beer vertel dat die werkswinkels ‘n sukses was en dat sy graag vir Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees en sy rolspelers vir hulle betrokkenheid gedurende die week wil bedank.

LEES OOK: Cream of the Airlink Pumas’ crop awarded

“Ons is baie dankbaar teenoor Innibos wat ons aanboord geneem het om die handwerkwerkswinkels onder hul vaandel te kon bemark en aanbied. Hulle is net so passievol en opgewonde om hulle talente te deel. “Ons sal graag wil aanhou om sulke werkswinkels aan te bied, en beplan weer ‘n heerlike program saam met die Innibos-span tydens die volgende fees.”

Na elke werkswinkel is elkeen met hul eie handewerk beloon en kon hulle daarmee by die huis gaan spog.

Nitali het ook ‘n wye verskeidenheid van ditjies en datjies waardeur werkswinkelgangers kon blaai vir daardie laaste Kersinkopies.

Exit mobile version