Beweerde swendelaar van Marlothpark in die hof

Nadat sy dit vele kere tevore kon regkry om die gereg te ontglip, is daar vroeër in Desember ’n beskermingsbevel teen Larissa Maritz uitgereik. ’n Hofverskyning is vir Januarie 2024 geskeduleer.

Die nou reeds berugte Marlothpark-inwoner wat by talle beweerde ‘swendelarye’ betrek is, het haar rieme styfgeloop.

Vroeër dié maand het die polisie op die dorp ‘n voorlopige beskermingsbevel op Larissa Maritz beteken nadat ‘n plaaslike sakevrou die hof om hulp genader het.

Juanita Swanepoel, die eienaar van Funky Fashions op die dorp, het vir die bevel aansoek gedoen nadat sy vasgestel het Maritz misbruik glo haar onderneming se naam. In haar verklaring sê Swanepoel sy het van die beweerde gebruik van Funky Fashions se naam bewus geword nadat ‘n vrou klere by ‘n vlooimark in Marlothpark bestel het, maar dat dié nooit afgelewer is nie.

LEES OOK: A dose of Christmas spirit, courtesy of the Mpumalanga Youth Choir

Lelanie Basson van Lydenburg het in Julie die bestelling van R1 600 betaal, maar het steeds nie die klere ontvang nie.

Basson het kort daarna vir Swanepoel gekontak om oor die transaksie te kla.

Swanepoel het aan Basson gesê sy weet nie van so ‘n trankasie nie.

In korrespondensie tussen Basson en die verkoper, wat sy toe as Karla leer ken het, het sy daarvan bewus geword dat Maritz nie die verkoper is nie.

Sterk beweerde boodskappe van Maritz aan Basson is as bewysstukke aan Swanepoel se hofaansoek geheg.

LEES OOK: Skok na gewilde Laevelder se skielike afsterwe

Op 28 November, tydens ‘n besoek aan Marlothpark, het Basson en haar man, Otto, Maritz se motor langs die pad sien staan.

Tydens ‘n konfrontasie het Maritz toe glo beweer sy is mede-eienaar van Funky Fashions. Dieselfde dag is Basson wéér na Swanepoel om te vra of die twee wel vennote is. Swanepoel het gesê sy is alleeneienaar. Dit is ook in haar verklaring voor die hof weergee.

Swanepoel het Maritz hieroor gekonfronteer. Swanepoel het selfs ‘n nota op sosiale media geplaas om mense te waarsku dat Maritz haar onderneming se naam misbruik.

Volgens Swanepoel se verklaring het Maritz in WhatsApp-boodskappe, wat ‘n gros stemnotas insluit, verskeie dreigemente teenoor haar gemaak. Maritz het onder meer gedreig sy sal sorg dat Funky Fashion ten gronde gaan. Maritz het selfs ‘n video van Swanepoel se winkel gemaak en aan haar gestuur.

LEES OOK: Alleged rhino poacher, Big Joe, gets granted bail

In haar verklaring aan die hof het Swanepoel gesê sy is vasbeslote om haar en haar onderneming se goeie naam teen Maritz se dreigemente te beskerm.

Sy wil ook verhoed dat haar onderneming finansiële skade ly.

In die beskemingsbevel het die landdros Maritz beveel:
1. om nie Swanepoel met geweld tedreig nie,
2. om nie die onderneming se naam onder valse voorwendsels te gebruik nie,
3. om nie Swanepoel, haar gesin of familie te agtervolg nie, en
4. om nie valse inligting oor Funky Fashions te versprei of voor te doen dat sy daarby betrokke is nie.

Die verhoor is tot 11 Januarie 2024 uitgestel wanneer Maritz redes moet aanvoer waarom die bevel nie permanent gemaak moet word nie.

Maritz het die week gesê sy gaan beslis die voorlopige bevel teen haar in Januarie teenstaan.

* Laevelder het die afgelope maande verskeie kere oor Maritz en haar beweerde swendelarye berig. Selfs die bekende privaat speurder, Mike Bolhuis, is besig met ondersoeke teen haar. Die koerant het ook onlangs berig hoe Maritz ‘n beskermingsbevel teen ‘n Marlothpark-vrou gekry het nadat dié waarskuwings oor Maritz op Facebook gedeel het.

Exit mobile version