Local news

Skok na gewilde Laevelder se skielike afsterwe

Medelye stroom in ná die ontydige afsterwe van die welbekende Laevelder, Gé-Gé Scholtz.

André Scholtz (36), beter bekend as Gé-Gé, is 7 Desember oorlede toe hy vermoedelik teen ‘n hoë spoed met sy Toyota Hilux teen ‘n stilstaande vragmotor op die R40 gebots het. Hy was vanaf Witivier na Mbombela onderweg.

Volgens paramedikus Martin Jeffrey was Scholtz in sy bakkie vasgekeer en moes hulle hom met reddingskake bevry. Hy is op die toneel dood verklaar.

Scholtz se verloofde, Elisca Sevenster, en haar vriendin, Michelle Nel, het kort daarna by die toneel opgedaag. Sevenster sê sy sal Scholtz se laaste woorde aan haar altyd onthou: “Jy is my span.”

Elisca Sevenster, Gé-Gé Scholtz en Elruwe Rosner. > Foto: Verskaf/Elisca Sevenster

Vanjaar het Scholtz vir Elisca Sevenster die jawoord gevra.

Lees ook: Welbekende Laevelder sterf in botsing met vragmotor

Sy sê die wêreld voel leeg sonder hom, maar dat hy ‘n ewige vonk in die harte van almal wat hom geken het, agtergelaat het.

“Jy het gholf as ‘n dans met die natuur beskou, ‘n manier om die wind te omhels en die aarde se geheime te ontdek. Ek sien jou swaai en hoor jou lag terwyl jy die groen velde verken, en ek hoop dat die hemel ‘n ewige gholfbaan is vir jou om op te speel. Jou liefde vir jou pelle en familie het die kern van jou bestaan gevorm. Mag die hemel weergalm met jou lag, die klanke van gholf, die melodieë van jou gunstelingliedjies, en die klinkende stemme van jou geliefdes. Jy mag fisies nie meer hier wees nie, maar jou gees leef voort in elke herinnering wat ons deel.”

 

Eduard en Gé-Gé Scholtz. > Foto: Verskaf/Sanette de Meyer

Scholtz se suster, Sanette de Meyer, skryf: “My liefste boetie, ek kan nie eers begin om vir jou te sê hoe ongelooflike groot leemte jy hier op aarde los nie. Met ‘n aansteeklike lag wat weergalm deur die huis het jy voluit gelewe, elke dag. Jou liefde vir jou familie en vriende was te groot vir woorde en jy het ‘n spesiale plekkie in elkeen se hart, dis vir seker! Daar was altyd tyd vir ‘n grappie met elkeen en jy was bereid om te help net waar jy kon. Ek, Eddie, mamma en pappa bly nou agter, maar ons weet jy is veilig by ons Vader. Dis nie totsiens nie, dis tot weersiens. Rus sag, Masjien, ons is lief vir jou.”

Gé-Gé Scholtz. > Foto: Facebook/Elisca Sevenster

Lees ook: UPDATE: Seven people confirmed dead in horrific bus crash on the Long Tom Pass

Sevenster se suster, Chanté Parsons, skryf op Facebook oor sy afsterwe “Jy is kinda a big deal! Die leemte sal nooit heeltemal gevul kan word nie. Jou vriendelikheid, liefde en diepe sorgsaamheid het ‘n onuitwisbare indruk agtergelaat. Jou lag sal vir ewig in my hart gebêre bly. Ek hoop dat jy vrede gevind het en dat jy rus in die ewige lig van liefde. I love you long time!”

Scholtz word oorleef deur sy vader, André, moeder, Marina, suster, Sanette, en broer, Eduard. Hy laat ook sy verloofde en haar seun, Elruwe Rosner, agter.

Agter: Gé-Gé Scholtz, Elisca Sevenster (verloofde), Adriaan de Meyer (swaer), Dian de Meyer (susterskind) .Voor: Sanette de Meyer (suster), Lua de Meyer (susterskind), Marina Scholtz (ma), André Scholtz (pa), Elruwe Rosner (Elisca Sevenster se seun). > Foto: Verskaf/Sanette de Meyer

Die gedenkdiens is vandag, Donderdag 14 Desember, by die Communio Kerk. Na afloop van die diens gaan Scholtz se vriende en familie sy lewe by Jock Pub and Grill vier en ‘n glasie op sy lewe klink.

Scholtz word Vrydag om 10:00 by die Plaas Mazunga, Gravelotte, te ruste gelê.

Lees ook: UPDATE: Seven killed in a horrific bus crash on the Long Tom Pass

Back to top button