VIDEO: Visarend geniet sy varswatervangs in ‘n boom in die Krugerpark

Wilna Wheater was gelukkig om hierdie visarende tydens een van haar besoeke in die wildtuin te kon besigtig.

In vandeesweek se Wilde Woensdag saam met Wilna deel sy beeldmateriaal van twee-in-’n-ry-kolskootoomblikke van visarende in die Nasionale Krugerwildtuin.

Tydens een van Wilna Wheater se onlangse besoeke aan die wildtuin is hulle vroegoggend by die Krokodilhek in en was hulle op pad Tshokwane toe vir ’n koppie boeretroos en middagete. Sy vertel dat hulle ook toe met ’n visarendpaar verras is.

Lees ook: FOTO’S EN VIDEO’S: Peuseltyd vir ratse nagapie in Marlothpark

“Nadat ons bene by Tshokwane gerek het, was ons op pad Skukuza toe. Naby die ruskamp het die visarendpaar my kameralens verras – dit was ’n ver skoot, want hulle was sowat 3 km ver,” vertel Wheater.

Sy gebruik ’n Nikon P1000-kamera, en selfs met die ingeboude lens was hierdie een ’n ver maar tog gelukkige skoot. “My kamera is absoluut sy sout werd,” skerts sy.

 

> Foto: Wilna Wheater

Met hulle vertrek terug huis toe, was hulle ook bevoorreg om ’n visarend sy jongste vangs reg langs die teerpad in ’n boom te sien geniet.

Kyk die video hier:

“Die visarend was in ’n boom reg langs die H1-teerpad vanaf Onder-Sabie op pad na die Krokodilhek toe. Ons was op pad uit die wildtuin na Marlothpark toe. Die visarend het die vis in die Onder-Sabierivier gevang, vermoed ek. Hy het heel ongehinderd en tevrede sy middagete geniet. Dit was nie eers vir hom ’n bedreiging dat ons so naby aan hom in die motor in die pad gestaan het nie. Ek was gelukkig om ’n mooi video te neem, want ons was ook die enigste voertuig langs die teerpad.”

Lees ook: VIDEO: Krokodille verorber bok in Krokodilrivier by Marlothpark

> Foto: Wilma Wheater

Laevelders kan voortaan elke Woensdag na Wheater se foto’s en video’s wat sy in die wildtuin en Marlothpark vasgevang het, uitsien.

Die storie agter die beeldmateriaal sal ook verskyn. Hou Laevelder se blaaie dop: Facebook, YouTube, TikTok, Instagram en Twitter (X).

Wil jy ook graag jou wilde wildtuinfoto’s en video-ervaringe met ons deel?

Stuur gerus ’n e-pos na bertus@lowvelder.co.za.

Exit mobile version