Vlammie-matrieks gee terug aan skoolgemeenskap

Hoërskool Bergvlam se matriekklas het na hul laaste eksamenvraestel hul skoolklere opgehang en -skoene op hul banke agtergelos.

Hoërskool Bergvlam se matrieks het op 1 Desember, nes die skool se tradisie voorskryf, hulle laaste eindeksamen in gewone klere afgelê en hul skoolskoene en skooldrag daar agtergelaat.

Mandy Barnard, Bergvlam se skakelbeampte, vertel dat hierdie projek al sedert die negentigerjare ‘n instelling by dié skool is.

“In 1997 het juf. Yolandie O’Reilly besef dat ons eie skool se Vlammie Boutique se voorraad baie laag is en dat daar ‘n behoefte onder ons eie leerders bestaan vir ‘n beter gehalte een. Sy en die Mnr. en Mej. Bergvlamkomitee het die matrieks aangemoedig om hulle skoolklere op ‘n wasgoedlyn by die skool op te hang en hulle skoolskoene op hul tafels te los,” sê Barnard.

LEES OOK: Mbombela boy bakes banana bread for trip to the seaside

Sedertdien is dit een van die Mnr. en Mej. Bergvlam-wenners se amptelike jaarlikse projekte.

Barnard vertel verder dat die ou klere wat nog in ‘n goeie toestand is, teen laer pryse verkoop word en dat die skoolskoene aan ander skole in die omgewing geskenk word.

Hierdie jaar is daar ongeveer 100 pare skoene, om en by 80 skoolrokke, -broeke en -hemde elk ingewin.

“Om hulle skoolskoene agter te laat is simbolies daarvan dat hulle hul ou maniere agterlaat en by hulle toekoms instap.”

Sou jy weet van ‘n skool wat by hierdie skenking sou baat, skakel Barnard by 013 741 1025 of stuur ‘n e-pos na mandy@bergvlam.co.za.

Exit mobile version