Local news

FOTO’S EN VIDEO’S: Peuseltyd vir ratse nagapie in Marlothpark

Wilna Wheater deel hierdie week beeldmateriaal van 'n ratse nagapie in Marlothpark met ons.

In vandeesweek se Wilde Woensdag saam met Wilna deel Wilna Wheater video’s en foto’s van ’n ratse nagapie (Galago moholi) wat sy onlangs in Marlothpark geneem het.

Lees ook: FOTO’S: ‘Wilde Woensdag saam met Wilna’ fokus op van haar pragfoto’s

Volgens Wheater bestaan die klein primaat se voeding uit vrugte, sprinkane, motte en spinnekoppe, en is hulle natuurlike vyande die luiperd en reuse-ooruil.

> Foto’s: Wilna Wheater

“Hulle eet ook graag boomgom. Nagapies kan tot 200 g weeg en kan 16 jaar oud word. Hulle is baie rats in bome, maar minder rats op die grond. Dié nagdiertjies met die sagte pels het ook baie goeie nagsig. ’n Persoon kan hulle nie mak maak nie, omrede hulle bedags onaktief is.”

Wheater het ’n groot bewondering vir dié diertjie.

“Hulle kom net vir my so oulik voor met hulle kenmerkende groot oë, kaal beweeglike ore, piepklein neus en mondjie.”

Sy vertel dat sy dié outjie onlangs in Marlothpark piesangs gevoer het.

“Hy was glad nie skrikkerig om dit by ons op die tafel op die stoep te kom haal nie, en my kinders het hom so geniet.”

Laevelders kan elke Woensdag na haar foto’s en video’s, wat sy in die wildtuin en Marlothpark vasgevang het, uitsien.

Die storie agter die beeldmateriaal sal ook verskyn. Hou Laevelder se blaaie dop: Facebook, YouTube, TikTok, Instagram en Twitter (X).

Lees ook: VIDEO: Krokodille verorber bok in Krokodilrivier by Marlothpark

Wil jy ook graag jou wilde wildtuinfoto’s en -video’s met ons deel? Stuur gerus ’n e-pos na bertus@lowvelder.co.za.

Foto’s en video’s: Wilna Wheater

Back to top button