7 000 karretjies vir Klasie

Met duisende motorkarretjies in sy versameling kan Klasie Olivier van Mbombela as ‘n kranige versamelaar van modelkarretjies bestempel word. Die versamelgogga het hom 50 jaar gelede gebyt en van daar af het sy versameling net uitgebrei, tot so ‘n mate dat uitstalplek begin om ‘n kopseer te raak. Sy groot verskeidenheid karretjies is verstommend, en is vir seker iets om te aanskou!

Hy is gebore met ‘n petrolkoppie.

Nee, dit is nie die een of ander generiese afwyking nie. En nee, sy ma het hom nie met ‘n bababottel vol diesel grootgemaak nie.

So spot Klasie Olivier (60) van Mbombela oor sy totale versotheid op karretjies.

Hiervan getuig die sowat 7 000 motorkarretjies wat tans in sy versameling is.

Die versamelgogga het hom sowat 50 jaar gelede gebyt toe hy nog in die laerskool was, toe hy ‘n Lamborghini Bora en ‘n Cadillac Eldorado as ‘n geskenk gekry het.

LEES OOK: Jack Russell of a Mbombela family deals with venomous snake.

“Ek het daai karretjies óp gespeel! Maar gelukkig kon ek darem een maal per maand ‘n nuwe toevoeging tot my versameling ‘verdien’.

“Op daardie stadium het ons haarkapper vir die seuntjies wat soet en stilgesit het, ‘n Matchbox-karretjie gegee. Ek het my pa altyd verpes dat ons hare moet gaan sny!”

Daardie jare het so ‘n karretjie ‘n allemintige 35c gekos. Deesdae is jy gelukkig om iets vir R50 te koop, vertel Olivier. Hy spesialiseer deesdae in die versameling van 1:18-, 1:43- en 1:64-skale, beter bekend as die Hot Wheels-skale.

Hy spog tans met 400 1:43-karre, 600 1:18’s en nagenoeg 6 000 1:64’s.

“Ek kan eenvoudig nie verby ‘n mooi karretjie loop en hom nie koop nie.”

Sy grootste probleem deesdae is pakplek vir sy hele versameling. “Die rakke in my speelkamer is vol en die res is in bokse verpak. Ek ruil darem so af en toe die karre om sodat almal ‘n beurt op die rak kan kry!”

Sy versameling sluit ‘n verskeidenheid van modelle en handelsname in, onder andere die gewilde Porsche en Ferrari.

Die oudste karretjies dateer uit die vroeë 60’s. Daar is onder meer ‘n unieke Fiat, ‘n VW-kewer en ‘n Wolseley.

Olivier is ‘n absolute Ferrari-freak en het onlangs sy droomkar, die holy grail van Ferrari’s, die Kyosho Ferrari F4, gekoop.

LEES OOK: Local businesses revamp Loco Street in Mbombela

Dié 1:18-skaal monstertjie het hom R9 000 uit die sak gejaag.

Oor die waarde van sy versameling wil hy liewer nie spekuleer nie. “Vir ‘n hoarder soos ek is my versameling priceless.”

Hy laat glip wel dat een van sy spogversamelstukke, ‘n Exoto Porsche 934, sowat R25 000 kos.

“Op hierdie stadium is my grootste frustrasie die beperkte uitstalruimte. Daarom is ek besig om vir my ‘n spesiale man cave te bou waar daar genoeg ruimte is om my hele versameling uit te stal.”

Omdat hy so baie ekstra karretjies het, het hy daarvan begin verkoop.

Olivier se versameling sal op 9 Desember by die Anything Goes Family Market in die parkeerterrein voor Food Lover’s Market te siene wees. Daar gaan ook te koop wees.

Exit mobile version