Brendan Peyper-koors loop hoog onder Laeveld-dames

Met lekker danstreffers soos "Boeredrukkie", "Toer om die vloer" en "Insomnia" kon die voete nie help om te jeuk nie en die heupe nie help om te skud nie!

Brendan Peyper het Saterdag, 18 November, vir ‘n lekker langarmfamilie-opskop by Blue Moon gesorg.

Dié hartebrekerplaasjaap van die Vrystaat was na verwagtinge die oorsaak dat menige jong mense, veral die vroulike geslag, Sondag nie meer as ‘n piep kon uitkry nie.

Teen dié tyd is dit al goed bekend onder die dames dat Peyper die volgende gesogte vrygesel op die tweede seisoen van kykNET se realiteitsreeks, Op My Eish!, is. Al wat leef en beef het “Trouvrou” dus uit volle bors saam met hom gesing. Hier en daar het ‘n paar dames selfs ‘n plakkaat opgehou met pyle wat ondertoe wys na moontlike kandidate vir sy trouvrou.

LEES OOK: So ‘n titseltjie F1 in die Laeveld

Met lekker danstreffers soos “Boeredrukkie”, “Toer om die vloer”, “Insomnia” en Peyper se eerste enkelsnit, “Stop, wag, bly nog ‘n bietjie”, kon die voete nie help om te jeuk nie en die heupe nie help om te skud nie!

Die optrede is nie verniet as ‘n familievertoning bemark nie. Daar was weliswaar iets vir almal se smaak, en die samesyn sou self die norsste grompot se mondhoeke laat opkrul.

Peyper se optrede kan opgesom word as ‘n lekker saamsing-, saamdans- en saamkuiergedoente. Vir die skoolgaandes was dit beslis ‘n studieblaaskansie wat hulle nie sommer gou sal vergeet nie!

Exit mobile version