So ‘n titseltjie F1 in die Laeveld

Formule 1-aanhangers is onlangs met ’n eens-in-'n-leeftyd-besigtiging van 'n replika-F1-renmotor bederf. En nie wie s’n nie, die een wat Max Verstappen en sy Red Bull-spanmaats op renbane wêreldwyd ry!

Die Laeveld is dalk nie deel van die Grand Prix-kringe nie, maar ‘n kuiertjie deur Max Verstappen, of eerder sy renmotor, was ons darem beskore!

Laevelders en Formule 1-aanhangers het Maandag, 20 November, die geleentheid gekry om die enjinkamer agter dié wêreldkampioen van naderby te beskou.

‘n Replika van Verstappen en Sergio Perez se Red Bull-span F1-renmotor is by Caltex Riverside ten toon gestel. Dit was nou wel nie die ware Jakob nie, maar so ná aan dit as wat jy sal kan kry.

LEES OOK: Die Laeveld nou Pieter Rischmüller se verhoog

Die kar is gebaseer op die 2019-model en het ses silinders, weeg slegs 150 kg, het ‘n 1600-enjin en het 900 perdekrag.

Verstappen het Sondag met so ‘n einste motor die Las Vegas-resies van die Grand Prix in styl gewen.

Die laaste besigtigingstyd vir dié renmotor was 18:00 Maandagaand, waarna dit na die Star Shop by Milly’s verskuif is.

Vir die petrolkoppe, ingenieurs, F1-aanhangers en klein seuntjies met groot drome het die week vir seker op ‘n hoogtepunt begin!

Exit mobile version