Local news

Die Laeveld nou Pieter Rischmüller se verhoog

So ’n paar mense sal hom beter onthou as Piet Pompies, deel van die groep DJ Ossewa. Hy het onlangs besluit om Mbombela sy tuiste te maak. Laevelder het by hom gaan inloer om meer oor dié skuif en sy musiekloopbaan uit te vind.

Of hy nou na Stukkie van der Merwe gevry het of die Briljantjie gedoen het, het Pieter Rischmüller, beter bekend as Piet Pompies, homself as ‘n liedjieskrywer en sanger in eie reg gevestig.

Met meer as 20 jaar se ondervinding in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, menige toere deur ons mooi land en sakke vol optredes onder sy belt, het Rischmüller hierdie jaar besluit om Kaapstad se geroer en rumoer vir die Laeveldse rustigheid te verruil.

“Toe ons ‘n paar jaar gelede net ná lockdown uit Gauteng wou verhuis, was daar twee opsies: die see of die Laeveld.”

Rischmüller sê dat “Nelspruit-mense ons tipe mense” is.

Hy en sy vrou, Lanie, het egter nie net na die Laeveld gekom om te kom ontspan nie. Pieter is nou wel so af en toe op die setperke van Mbombela Gholfklub te sien en sal graag langs die viswaters of tuis tyd saam met sy gesin wil deurbring, maar in sy eie woorde: “Ek toer permanent die hele land deur.” Hy was onlangs ‘n week in die Suid-Kaap vir optredes in onder meer Oudtshoorn en Mosselbaai, en gaan ook een van die dae ‘n draai in Limpopo gaan maak.

LEES OOK: Animal hospital in Mbombela requests assistance to find displaced baby birds

Terug in die Laeveld vertel Pieter dat hy onlangs by Oppi Hoek Pub and Grill opgetree het en sommer weer oor twee weke, op 8 Desember, daar te siene sal wees.

Pieter sê dat hy nie meer Piet Pompies as sy verhoognaam gebruik nie, maar dat dit altyd ‘n deel van hom sal wees. “Nadat ek in 2014 by DJ Ossewa weg is, het ek besluit om onder my eie naam te sing. Deesdae sing ek onder Pieter Rischmüller, maar meeste mens ken en herken my nog steeds as Piet Pompies. Dit sal maar seker altyd stick.”

Toe hy gevra word waar dié naam nou eintlik vandaan gekom het, deel hy dat die destydse skrywer en radiopersoonlikheid, Mike Heine, hom Piet Pompies gedoop het. “Toe DJ Ossewa begin het, het almal ‘n verhoognaam gekies, en as gevolg van my spitsvondigheid, my karakter en dies meer, het hy my toe dié naam gegee, want ek het hom aan die voormalige Piet Pompies van die 1940’s laat dink, die sanger, komediant en akteur, Pieter van der Byl.”

LEES OOK: Gallery of stars confirmed for 2023 Alfred Dunhill Championship

Verder verduidelik Pieter hoe hy toe die verhoognaam as handelsmerk geregistreer het en dit toe, letterlik, sy eie gemaak het.

Anders as die ligte, grappige musiek met ‘n hoë tempo en boeremusiekondertoon waarvoor DJ Ossewa gewild geraak het, vertel Pieter dat hy besluit het om die kommersiële musiekmark in te vaar toe hy besluit het om sy sololoopbaan af te skop. “Ek het ‘n bietjie vir ander kunstenaars geskryf en só die waters getoets,” sê hy.

Deesdae sing en skryf hy Afrikaanse countrymusiek “oor dinge van die lewe,” vertel hy. Hy beskryf sy musiek as sielsmusiek. Iets wat jou sal laat dink, so ‘n bietjie nostalgies sal maak en dalk ook iets sal leer.

Pieter nooi Laevelders uit om die man agter die alias Piet Pompies by sy vertonings te kom leer ken. “As jy nog nie by ‘n vertoning was nie, kom maak gerus ‘n draai. Ek sal jou graag wil ontmoet.”

Oud of jonk, daar is iets vir almal in sy musikale skatkis.

*As jy meer oor Pieter se optredes te wete wil kom, besoek gerus sy sosialemediabladsye of www.pietpompies.co.za.

Back to top button