Rondloperteef veilig by Pro-Life, reun wandel steeds in Mbombela se strate

Susan Coetzee het sedert vroeg Oktober dit haar plig gemaak om dié rondloperreun en -teef op te spoor, te tem en aan die dierewelsynsorganisasie te besorg.

Laevelder het verlede week, 9 November, berig oor die goeie Samaritaan, Susan Coetzee, wat uit haar eie uit besluit het om om te sien na twee rondloperhonde wat sy dikwels in Amaryllislaan of Dr Enos Mabuza-rylaan sien swerf het.

Coetzee het sedert vroeg Oktober dit haar plig gemaak om dié twee, ‘n reun en teef, op te spoor, te tem en aan die dierewelsynsorganisasie Pro-Life Pet Rescue te besorg. Talle Laevelders volg sedertdien haar storie op die Facebook-groep Lost and Found Pets Lowveld.

Ná weke se geswoeg en sweet het Coetzee eindelik die teef by Pro-Life uitgekry, nadat sy tot die besef gekom het dat sy dragtig is. Daar is verder berig dat die reun sy maat mis en nog nie mak genoeg is om ook te vang nie, maar dat Coetzee onderneem het om aan te hou probeer om hom met die teef by Pro-Life te herenig.

LEES OOK: Dog dies due to poisoning in White River

Laevelder het op 8 November self ‘n draai by Coetzee gaan maak toe sy vir die reun kos gaan uitsit het. Daardié middag het hy egter nie sy verskyning gemaak nie – ook nie die Donderdag nie.

“Ek het Vrydagmiddag besluit om toe maar die teef by Pro-Life te gaan haal,” vertel Coetzee, en voeg by dat sy gehoop het dit sou help om die reun terug te lok. “Ons tweetjies het die aand op die hoek van Enos Mabuza en Amaryllis in my kar oornag.”

Dié foto is van die teef geneem waar sy en Coetzee op die hoek van Enos Mabuza en Amaryllis oornag het.

Coetzee sê dat dié poging gedeeltelik gewerk het. “Die reun het om 00:45 sy opwagting gemaak. Ek het met die teef na hom toe aangestap, maar vanweë die afstand tussen ons, het hy net gestaan en toekyk, waarna hy weer die pad gevat het.”

Om 03:00 was dit dieselfde storie.

LEES OOK: Pumas wen tweede ronde katgeveg in Potch

Deur die loop van die naweek het Coetzee en die teef weer op die hoek gewag met die hoop dat hy sou uitkom, maar daar is nog geen teken van hom nie.

Coetzee doen ‘n beroep op enigeen wat die hond dalk gewaar om met haar in verbintenis te tree, hetsy per die Facebook-groep of telefonies by 082 857 6297. Sy vra ook dat indien die publiek hom teëkom, dat hulle hom nie sal probeer vang nie, aangesien hulle hom net meer sal verwilder.

“Kom reënweer of sonskyn, ons sal hom kry.”

Exit mobile version