Humor en sjiekheid seëvier in Mbombela soos net Nataniël kan

Die immergewilde Nataniël het aan die begin van November weer ’n draai in die Laeveld gemaak, en soos oudergewoonte het die gehoor behoorlik aan sy lippe gehang.

Vlymskerp, ongefiltreerd, ’n bietjie onder die belt, skreeusnaaks en mooi.

Hierdie is maar net sommige van die woorde wat gebruik kan word om Nataniël se opvoering van 1 November by die Hervormde Kerk te beskryf.

Hierdie aangeleentheid merk die 20ste keer wat dié veelsydige kunstenaar die inwoners al met sy pittige staaltjies, mooi melodieë en skerp sin vir humor kom vermaak het. Sy optredes is teen hierdie tyd al byna ’n instelling in die Laeveld.

LEES OOK: Harte smelt na Laevelder honde-paar in Mbombela red

Toe Laevelder Riaan Loubser, die vertoning se organiseerder, vra waarom hy dink dit die geval is, het hy die volgende geantwoord: “Ek en Nataniël het ’n goeie werksverhoudig. Hy weet dat wanneer hy hier aankom, alles reeds in plek sal wees, en ek, aan die ander kant, weet dat hy sal opdaag en die gehoor gelukkig sal wees met wat hulle kry. Hy is uiters professioneel!”

Nataniël het ’n talent vir storievertellery en ’n ryk stem wat elke gehoorlid kan betower. Wat alles egter kroon is die feit dat geen twee van sy vertonings ooit eenders is nie. “Hy gee ons elke jaar ’n splinternuwe vertoning,” vertel Loubser. “Nuwe stories, nuwe musiek, nuwe kostuums!”

LEES OOK: IN PHOTOS: Uplands spreads Christmas cheer with versatile market

By dié einste vertoning in Mbombela het Nataniël vier verskillende kostuums gedra – elkeen skitterblink en bont. Wat is ’n Nataniël-vertoning dan nou sonder ’n vinnige gedaanteverwisseling?

Vyfhonderd mense het behoorlik aan dié befaamde kaalkop se lippe gehang. Saam met sy getroue wêreldklas pianis, Charl du Plessis, het Nataniël oudergewoonte gesorg vir vermaak uit die boonste rakke!

“Ek dink die vertoning was ’n groot sukses in terme van die terugvoer wat ons direk van die publiek gekry het. Ek het boodskappe van mense ontvang wat vir my vertel hoe hulle die vertoning geniet het. Mense het my gebel om uit te vind of ons al ’n datum vasgestel het vir toekomstige vertonings – hulle wil solank al bespreek,” het Loubser na afloop van die vertoning gesê, en bygevoeg dat hulle baie dankbaar vir die ondersteuning is.

Dié vertoning is in samewerking met Unigrad College aangebied as deel van die studente se diplomakursus in toerisme, met die fokus op aangeleentheidsbestuur.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version