Twee verdagtes vas ná Megan Griesel-moord

Die polisie is positief dat nog arrestasies sal volg nadat die 20-jarige se voertuig 27 keer deur vermeende rowers geskiet is. Sy is noodlottig gewond.

Twee verdagtes wat na bewering met die skietdood op Megan Griesel (20) verbind word, is in hegtenis geneem.

Griesel is op 21 Oktober om ongeveer 00:40 in ‘n koeëlreën dood toe ‘n roofbende op haar motor geskiet het.

Sy was op pad na haar ouerhuis by Sterkspruit Falcon Estate waar haar pa, Stephan Griesel, reeds by die hek vir haar gewag het. Haar foon het doodgegaan terwyl hy met haar gepraat het.

Hy het onmiddellik na die verkeersirkel by The Heads-winkelkompleks gery, sowat 200 m van hul huis, waar hy die skote gehoor het, Hy moes self sy dogter uit die voertuig haal. Sy is op die toneel deur die paramedici dood verklaar.

Lees ook: Kersligseremonie ter nagedagtenis aan Megan Griesel in Lydenburg

“’n Polisietaakmag het op 1 November die een verdagte naby Masoyi, buite Witrivier, gearresteer. Hy het dieselfde dag in die Lydenburg Landdroshof voorgekom. Nog ‘n verdagte is op 2 November in KaNyamanzane in hegtenis geneem en het in die KaBokweni Landdroshof verskyn,” het kol. Donald Mdluli, Mpumalanga se provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Die verdagtes, beide 27, sal op 7 November in die Lydenburg Landdrofshof verskyn.

’n Kersligseremonie is by Hoërskool Lydenburg gehou vir Megan Griesel op 27 Oktober.

 

Arno, Mathilda, Megan en Stephan Griesel. Foto’s: Verskaf/Stephan Griesel
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version