Local news

n Tikkie Franse flair vir Laeveldse fotograaf

Johan Orton was vier jaar gelede ook in die bevoorregte posisie om die 2019 Rugbywêreldbeker in Japan as medialid by te woon, nou is die 2023-weergawe van dié toernooi sy speelveld.

Bonjour la France!

Teen hierdie tyd weet elke Laevelder seker al wie Johan Orton is, het al van hom gehoor of sy foto’s in beide die plaaslike sowel as nasionale koerante opgemerk.

En dis juis weens sy fotografievernuf dat hy oor die waters is om die aksie op die internasionale verhoog by die 2023 Rugbywêreldbeker vas te vang.

Laevelder het by Orton, wat sedert 27 September in Frankryk is, gaan inloer om te hoor wat sy indrukke van die gasheerland is en of die Bokkoors ook daar, soos hier in Suid-Afrika vlamvat.

“Dit is ‘n wonderlike voorreg om hier te kan wees. Hier is ongelooflik baie Suid-Afrikaners, ‘n mens sien en hoor oral Afrikaans! As ek moet reken, seker so 50 000, maar meeste is maar Suid-Afrikaners wat nou iewers in Europa woon,” vertel hy.

Orton sê ook dat daar geensins ‘n tekort aan gees in Frankryk is nie. Onder die ander nasies se toeskouers en natuurlik die Suid-Afrikaners ook. “Die gees is groot! Oral sal jy die braai-army voor elke Bok-wedstryd opmerk. Jy moet hier wees om dit te kan beleef…”

Nog ‘n hoogtepunt vir hom was toe hy van sy ou varsityvriende na sowat 20 jaar weer raakgeloop het, en nie waar nie, in die strate van Marseille.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit-leerder laat motorfiets vir KANSA brul

“Ek was half hartseer dat ek moes werk en dat ek nie saam kon kuier nie! Maar my rubberarm het darem sterk gestaan en ek het net genoeg selfdissipline gehad om na my mediaboks te gaan,” skerts Orton.

Hy was vier jaar gelede ook in die bevoorregte posisie om die 2019 Rugbywêreldbeker in Japan as medialid by te woon. Hy vertel dat in kontras met die Japannese, is die Franse nie baie behulpsaam nie. Tong in die kies vertel hy: “As jy Afrikaans praat, ignoreer hulle jou, en as jy Engels praat, vloek hulle jou… Nee, ek oordryf so ‘n bietjie, maar ons moes maar op ons eie selfstandigheid staatmaak om van punt A na B te kom. Hulle help ‘n mens nie graag omdat hul Engels ook beperk is.”

Hy sê dat die stede maar baie eenders as dié in Suid-Afrika is: die toeriste-areas is skoon en mooi, maar die agterstrate is vuil en vol graffiti.

LEES OOK: Lowveld outraged by Dos Santos slaying

Orton se tyd in Frankryk laat hom baie terugdink aan hoe dit in Japan was. Mens bly maar mens, ons kan mos nie help om te vergelyk nie.

“Ek wil niks wegneem van Frankryk nie, maar die oorgrote meerderheid van die Franse ís sokkergeesdriftiges. Die suide van Frankryk is lief vir hul rugby en het amper meer passie as ons Suid-Afrikaners en Nieu-Seelanders saam, maar hulle is in die minderheid,” meen hy. “En dis ook die rede waarom Frankryk nie in geheel in die toernooi ingekoop het nie.”

Maar hoewel Frankryk in seker aspekte by Japan afsteek, is nie een wêreldbekertoernooi eenders nie.

“Wat egter lekkerder is van hierdie een, my vroutjie is saam met my!”

Johan en Monique toer so tussendeur die wêreldbeker en verken Frankryk weg van die rugbygees. “Ons besoek wynplase, museums en geniet Franse kos. Besoekpunte sluit Bordeaux, Toulon en Marseille in.”

Hul reis eindig in Parys en Switzerland, waarna hulle terug huis toe gaan.

Hoekom so gou, vra jy? Johan vertel dat anders as in Japan, het sy borge hom beperk om die hele toernooi vanjaar te dek en was hy slegs gekontrakteer om die wedstryd tussen die Springbokke en Tonga wat Sondag beslis is, te dek.

Indien die Bokke daarin slaag om weer ‘n keer hul plek in die eindstryd te bespreek, sluit Johan weer as deel van die mediaspan aan. Kom ons hou duim vas!

Back to top button