Local news

Bulletjierugby op sy heel beste by Nelspruit Rugbyklub

Die Laeveld Rugbyakademie beywer hom vir die ontwikkeling van jong spelers in die omgewing, en dit was juis die doel van dié pret toernooi teen Ermelo.

Op 26 Augustus het die Laeveldse rugbysterre van die toekoms met hul eweknieë van Ermelo kragte gemeet om te kyk hoe diep Mpumalanga se rugbytalent lê.

Die o. 8’s, 9’s, 10’s, ‘n gemengde o. 11- en 12-span, en dan ook die o. 13’s van die Laeveld Rugbyakademie (LRA) en die Ermelo Arende het hul staal op die veld by die Nelspruit Rugbyklub gewys.

Die dag kan geken word aan geesdriftige toeskouers en opwindende bulletjierugby!

LEES OOK: Something for everyone at the Mpumalanga Show

“Ons het ‘n baie goeie dag op die veld gehad. Ermelo was ook net so goed, en dit was lekker om koppe te stamp met ‘n ander jeugklub wie se rugby ook op ‘n goeie plek is,” het Juan Pieterse, een van die akademie se medestigters en afrigters, aan Laevelder ná afloop van die dag vertel.

LRA het gemengde resultate behaal. Twee van hul spanne het gewen, een het verloor, en een gelykop gespeel.

Die uitslae was soos volg:
• O. 9: wen 15-12
• O. 10: verloor 15-0
• O. 11/12: speel gelykop 5-5
• O. 13: wen 39-12.

Die LRA is in 2021 gestig juis met die doel om die algemene en posisionele vaardighede van spelers te ontwikkel. “Ons het dit begin vir twee redes. Die hoofrede is om as ‘n hulpmiddel vir die skole en spelers van die Laeveld op te tree,” het Pieterse vertel. Hy sê dat die ander rede is om die spelers die hele jaar speelgeleentheid te gee.

LEES OOK: Celebrations galore at Curro Nelspruit

“Stede soos Pretoria en Johannesburg het menige jeugklubs waarby spelers betrokke kan raak sodra die skoolseisoen eindig, en dit verbeter die gehalte van rugby. Dus bied die akademie ook ons kinders die geleentheid om saam met spelers van ander skole te speel en nie net teen hulself nie.”

Laerskole van Mbombela en Witrivier vorm deel van die rugbyakademie. Daar word ook aan kinders wat tuisonderrig ontvang die geleentheid gebied om by dié sport betrokke te wees.

As die rugby wat dié dag gespeel is ‘n voorsmakie is van wat ons van die jongspan kan verwag, lyk die provinsie se rugbytoekoms inderdaad blink!

Back to top button