Hoërskool Nelspruit bring goue produksies op die planke tydens fees

Die twee Hoërskool Nelspruit-produksies wat hulle vanjaar op die planke by die ATKV-Tienertoneelkompetisie gebring het, het omtrent die pryse ingepalm. Nou is dit die ouers en Laevelders se beurt.

Met die meeste sport en natuurlik ook die matriekafskeid uit die weg, kon die leerders en onderwysers van Hoërskool Nelspruit hul konsentrasie na vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie verskuif.

Die Nellies het twee produksies vir dié kompetisie ingeskryf: ‘n komedie, My meisie se ou se meisie, en Kopskuif, wat ‘n meer ernstige, swaarder toon aangeneem het.

Die eersgenoemde stuk is losweg op die teks deur Ray Cooney, My vrou se man se vrou, geskoei, wat ook vroeër by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees ‘n draai kom maak het.

LEES OOK: A round of golf in Mbombela to commemorate Women’s Day

Kopskuif is deur ‘n gr. 10-leerder, Nina Prinsloo, geskryf. Sy het ook die regie van die stuk behartig.

Vanaf 31 Julie tot 5 Augustus het honderde tieners tydens die tweede Gauteng-streeksfees ‘n beurt gekry om hul toneelstukke op die Unisa Little Theatre se verhoog in Pretoria op te voer.

Die mentorbeoordelaars was Solomon Cupido, André Lotter, Mari Molefe van Heerden en prof. Marié-Heleen Coetzee. Nie net was hierdie beoordelaars getaak om die deelnemers te inspireer met wenke om hul produksies te verfyn nie, maar hulle het ook die toppresteerders in die streek aangewys.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se mooistes tydens glansaand gekroon

Hoërskool Nelspruit het met die volgende toekennings van die verhoog afgestap:

• My meisie se ou se meisie
Brons vir die produksie en ensemblespel deur Ruben Lorist, Mizé Calvert, Clarissa Botha, Rohann Schultz, Pedrie Claassens, Xanthé Jacobs, Carl Maré, Meyer Wessels, Willie Wessels en Boipele Diphoko.
Rona van Blerk ontvang silwer vir haar regie en Clarissa Botha vir haar spel. NHS kry ook silwer vir stelontwerp en -inkleding, asook hul beligtingsoperateurs (Lilieke Potgieter, Sesana Fakude, Chandré Cloete en Raiel Frisch), en klankoperateur, Mia de Klerk.
Goue toekennings is aan Kristen Lea oorhandig, die verhoogbestuurder en vir verhooghulp verleen deur Elryn Fourie, Ayanda Mlambo, Chalyssa Nel, Thailo Bibbey, Andelé van der Merwe en Lisa van Coller.
Rohann Schultz het goud ontvang vir sy skitterende spel as Kobus in die stuk.

• Kopskuif
Dié produksie het silwer toekennings ontvang vir verhoogbestuur deur Kristen Lea, verhooghulp en beligting.

“Die streeksfees was ‘n ongelooflike ervaring,” het Van Blerk, NHS se tienertoneelkoördineerder gesê.

“Ons het verskriklike goeie terugvoer gekry. Ons kompeteer met die groot kanonne van Gauteng, soos Noordheuwel en Helpmekaar, en ek kan met alle eerlikheid sê dat ons, volgens die terugvoer ontvang en die uitslae, die Laeveld en Mpumalanga se naam hoog gehou en gestand gedoen het.”

Van Blerk voeg ook by dat daar wel nog aspekte is waaraan hulle kan werk.

Beide hierdie produksies word op 28 Augustus by Hoërskool Nelspruit opgevoer. Kaartjies sal vanaf Maandag, 21 Augustus by die skool beskikbaar wees.

Exit mobile version