Ringbal is in dié Laevelder se bloed

Rudi Blignaut is een van die vyf Ehlanzeni-ringbalspelers wat gekies is om Suid-Afrika in dié sport te verteenwoordig. Hy en sy span sal op 19 Augustus in aksie wees.

“Ek was in die sport in gebore,” sê Rudi Blignaut oor ringbal.

Hy het aan die begin van Julie Ehlanzeni in die distrikstoernooi verteenwoordig, waar sy span teen dié van ander provinsies, soos Gauteng en die Wes-Kaap, te staan gekom het. Dit is ook juis by dié einste toernooi waar sy talente op die baan deur die nasionale keurders raakgesien is.

Hy is een van vyf spelers van Ehlanzeni wat in die nasionale spanne ingesluit is. RingballSA het verskeie spanne vir elke ouderdomsgroep aangewys, asook presidensiële en uitnodigingspanne.

LEES OOK: Let’s develop junior golf players in Mpumalanga

Blignaut is vir die uitnodigingspan vir veteranemans gekies.

“Dit is ’n groot eer om deel van een van ons nasionale Suid-Afrikaanse spanne te wees,” het Blignaut gesê. “Ons gaan meeding in wat die presidensiële uitdaagreeks genoem word. Daar gaan streekspanne teen mekaar ook speel, en nóg ’n span sal na gelang van die reeks gekies word om van die SA spanne te probeer aanvat.”

Vir Blignaut is hierdie ’n droom wat waar geword het. Hy sê dat sy ouers aan die sport deelgeneem het, selfs voordat hy sy opwagting gemaak het, en hulle beskou dit as ’n gesinsport. “Die hele familie kan in verskeie ouderdomsgroepe deelneem. Om deel te wees van die ringbalfamilie is wonderlik!”

LEES OOK: Moenie die eerste Innibos Boekenaweek op Kaapsehoop misloop nie

Die presidensiële uitdaagreeks het afgeskop met ’n oefenkamp op 5 Augustus in Pretoria. Hierdie komende naweek op 19 Augustus lê daar vir die spanne ’n klompie wedstryde voor, met nóg wat op 2 September by Camp Discovery net buite Pretoria volg.

Exit mobile version