Die Pumas spog met hul eie nommer 23

Fez Sithole het dag na dag vir Jimmy Stonehouse op die stoepie voor sy kantoor gesit en wag. Dis toé dat hulle hom aanneem as deel van die Pumas-familie.

Sowat ses jaar gelede het ‘n 12-jarige seuntjie van Mataffin, soos nuuskierige seuns van daardie ouderdom maar doen, ondersoek by die Mbombela Stadion gaan instel om te kyk waarmee al die mans met die pienk klere en rugbyballe hulself dag in en dag uit besig hou.

Dít wat hy daar gesien het, was genoeg om hom te laat besluit om die volgende dag terug te keer. Én die dag daarna. En selfs die een daarna ook.

LEES OOK: Finally some progress in Laerskool Laeveld’s construction project

Die Airlink Pumas se hoofbreier, Jimmy Stonehouse, herroep hoe ‘n jong seuntjie destyds op die stoep voor sy kantoor gesit het wanneer hy sy bakkie daar stop.

“Hy het altyd daar gesit, as ek daar aankom, saam ingekom en by my in die kantoor kom sit. Elke middag na skool was hy hier, en elke aand wat ek nog gesit en werk het, het hy saam met my in die kantoor gesit tot watter tyd toe,” onthou Stonehouse.

Fez Sithole (18) is lankal nie meer ‘n 12-jarige nie, maar sy uitstappies na die stadion is wel steeds deel van sy daaglikse roetine.

Hy het sy gesittery in Stonehouse se kantoor verruil vir ‘n houer vol waterbottels langs die veld tydens oefeninge, en het as die span se nieamptelike waterknaap ingestaan. Die Airlink Pumas se spanbestuurder, Samuel Sikiwe, sê hy moet hom egter nie net as sulks beskou nie, maar eerder as deel van die span. “Hy het deel van die Pumas-familie geword.”

LEES OOK: Hou solank dié datum oop!

Deur die jare het sy nuwe aangenome familie hom ook op akademiese gebied bygestaan. Stonehouse, wat self ‘n onderwysagtergrond het, vertel hoe Fez sy skoolrapporte vir hom gebring het om na te kyk. “Ons druk hom baie hard om beter by die skool te doen,” het Sikiwe bygevoeg.

Buiten dié gee hulle ook elke jaar vir hom ‘n Kersgeskenk. Twee jaar gelede het hulle vir hom ‘n fiets gekoop sodat hy makliker by die skool kan kom, en verlede jaar was klere ook deel van die Krismisboks.

Die stoepsittery het voorwaar in iets meer ontaard as waarvoor hy te verwagte was. Net soos enige ander spanlid word hy nêrens uitgelaat nie. “As ons funksies het soos bingo-aande, dan gaan hy saam. Ons los hom nie hier nie. Hy moet saamgaan,” sê Stonehouse.

LEES OOK: Business skills for young women at Mbombela seminar

Dié knaap het selfs saam Bloemfontein toe getoer vir vanjaar se Curriebeker-eindstryd teen die Toyota Cheetahs. Enige laaitie se droom.

Wat Fez oor die hele saak te sê het, is eintlik heel eenvoudig:

“Hulle laat my deel van die span voel. Dis lekker om rondom hulle te wees.”

Maak ‘n knoop in jou oor!
• 27 Oktober: Die Pumas-sakeontbyt met rugbylegende Frans Steyn by die Emnotweni Arena. Tafelbesprekings beloop R2 000 (10 per tafel). Daar is slegs 20 tafels beskikbaar, so maak seker jy boek jou plek. Enkelkaartjies kan ook teen R200 per persoon bespreek word. Besprekings en navrae: marketing@pumas.co.za.

Exit mobile version