Local news

Care Buddies: Op die volgende twintig jaar!

Die Care Buddies se 20ste verjaardagviering was ’n gesellige affêre, en het met die terugblik op die afgelope 20 jaar die fondasie gelê vir die volgende tydperk wat nog op dié organisasie wag.

’n Gesellige atmosfeer het verlede Woensdag, 12 Julie, by Whispering Thorns geheers toe die Care Buddies van Sabie, Witrivier en Mbombela almal byeengekom het om ’n besonderse mylpaal te vier.

Die Care Buddies is 20 jaar oud.

Dit is ’n organisasie sonder winsoogmerk, dus is die ondersteuning van gemeenskappe sy mees waardevolle hulpmiddel om aan hierdie behoeftes te kan voorsien.

“Dis moeilik om oud te word. Dis nie maklik nie. Dis my passie om oudword makliker te maak,” het Yvonne McHeath-King by die verjaardagviering vertel.

Daar is heerlik aan die geurige kos gesmul. Die Buddies, oud en jonk, het staaltjies gedeel en saam gelag, en natuurlik is daar ook glasies sjampanje op die volgende kleurvolle 20 jaar geklink.

LEES OOK: Nelspruit Regional Court postpones JJ Peters’s trial due to technical glitches

Dié groep is die breinbaba van die organisasie se hoof- uitvoerende beampte, McHeath-King, en dit het in 2003 tydens ’n besoek aan die SAVF Rustig-ouetehuis in Witrivier tot stand gekom. Sy vertel dat sy die besoek aan die tehuis afgelê het om plek vir haar ma te soek. “Ek het nie op daardie stadium veel aandag aan oumense geskenk nie. Ek het nie regtig aan hulle gedink nie. Maar toe ek by die ouetehuis inloop, was ek nogal geskok.

“Op daardie dag het ’n tannie met my gedeel dat haar kinders haar die naweek kom besoek. Die week daarna was dit dieselfde storie.”

Met haar derde besoek het McHeath-King besluit om by die tehuis se personeel te gaan uitvind of die tannie se kinders toe wél vir hul ma en ouma kom kuier het. “Vir 10 jaar lank het dié tannie elke Sondag gesit en wag vir haar kinders, maar hulle het nooit opgedaag nie. Dit het my hart gebreek.”

LEES OOK: Feline visitors on Skukuza golf course

Net dáár en dan het sy die besluit geneem om iets aan die saak te probeer doen. Met behulp van twee vriendinne is die Care Buddies op die been gebring.

Van partytjies tot konserte is vir die bejaardes op Witrivier gehou om hulle op te beur. Selfs ‘n modeparade waarin die inwoners die rol van die mannekyne ingeneem het, is gehou.

Buiten Witrivier is daar ook Buddies op Sabie en Mbombela, tot so ver soos Kaapstad en Hilton in KwaZulu-Natal.

LEES OOK: Incomplete upgrades hinder pupils’ return to Laerskool Laeveld

McHeath-King sê die treffendste van die vrywilligers is die feit dat mense graag hulle tyd spandeer om deel van dié organisasie te word. “Ek gaan nie die mense soek nie. Hulle nader my, en dan spring ons in en help,” het sy gesê.

Na 20 jaar funksioneer dit steeds soos ’n goed geoliede masjien. “Ek glo Care Buddies is deur God geseën. Feitlik alle behoeftes wat ek in hierdie 20 jaar tydperk vir die oumense gehad het, is vervul.”

Back to top button