Kry jou kombers reg en geniet die Warmfees in Mbombela

Die Round Table White River 64 daag jou uit om soveel komberse moontlik bymekaar te maak en op 17 Junie na die Warmfees te bring.

Laevelders onthou sekerlik verlede jaar se Warmfees.

Vanjaar is hy terug, net by ‘n ander venue.

Martin Bester, die grootste dryfkrag agter dié geleentheid, maak op 17 Junie weer sy opwagting saam met plaaslike sangers, Brian Wilkinson en Danny Smoke.

Vang dié span weldoeners by Mustangs – The Dancing Place; die hekke open om 17:00 en die vertoning begin om 19:00.

Die Round Table White River 64 is vanjaar die trotse organiseerders van dié geleentheid. Die hoofdoel is natuurlik, soos verlede jaar, om komberse vir minderbevoorregtes in te samel.

LEES OOK: Bergvlam steek die verhoog aan die brand met vanjaar se revueproduksie

Dis dan ook al wat toegang tot die geleentheid jou sal kos: ‘n kombers. En as dit binne jou vermoë is, soveel komberse as wat jy kan.

“Soos almal in die gemeenskap weet, probeer ons as Round Table ‘n verskil te maak vir die mense daar buite,” sê die Round Table se JL Coetzee.

“Met beurtkrag weet ons hierdie jaar veral dit gaan moeilik wees om die winter warm deur te maak. Dus het ons hande met Martin Bester gevat en doen ons die Warmfees om komberse in te samel vir kinderhuise, Childline, ouetehuise en mense op straat.”

Coetzee het ook sakeondernemings uitgedaag om te kyk wie die meeste komberse kan insamel. Hy sê die komberse kan op 17 Junie by Mustangs afgelaai word.

Exit mobile version