Bergvlam steek die verhoog aan die brand met vanjaar se revueproduksie

Dié skool se revue het die bekende Disney-verhaal, Beauty and the Beast, geneem en 'n egte hoërskool-'twist' aan dit gegee waarby talle tieners aanklank kan vind.

Tale as old as time, song as old as rhyme, beauty and the beast.”

Dít is seker een van die bekendste liedjies wat in die Disney-rolprent te hoor is, en dit is juis hierdie einste lied wat die inspirasie agter Hoërskool Bergvlam se 2023 revueproduksie was.

Bergvlam se Beauty and the Jock was vanaf 22 tot 25 Junie op die planke en volg dieselfde storielyn as die bekende animasierolprent, Beauty and the Beast, maar met ‘n kinkel in die kabel waarby elke tiener aanklank kan vind.

LEES OOK: Paragliders set to take to the sky

Adam (die Jock, vertolk deur Jayden Philander) bevind homself in ‘n penarie wat sy toekoms in gevaar kan stel, maar sy vriende stel ‘n verraderlike plan voor om hom te help om sy probleme te laat verdwyn. Aan die ander kant, beplan die pliggie en boekwurm, Belle (Veronica De Vasconcelos) en haar vriendinne ‘n girls’ night by haar huis. ‘n Speletjie van truth, dare or command, verander dié girls’ night vinnig in ‘n ontsnaptoertjie.

Beide Adam en Belle beland op ‘n Vrydagaand by die skool. Adam, om in die skool se puntesisteem in te teken en sy wiskundepunte te verander, en Belle, omdat sy wil bewys dat sy ook ‘n rebelse kant het, anders as wat haar vriendinne kwansuis glo.

LEES OOK: Seldsame verskynsel ‘n hoogtepunt vir gesin wat wildtuin besoek

Saam ontduik hulle die skool se sekuriteitswagte, bevind hulle hulself midde-in ‘n kosgeveg, en neem hulle die raad van ‘n pratende kandelaar, verestoffer, koppie, teepot en klerekas aan. Belle en Adam sluit die aand op die dansvloer af, spoggerig geklee terwyl hulle ritmies op die maat van Bianca Swift en Khaya Mathebula se uitvoering van die oorspronklike rolprent se temalied, ”Beauty and the Beast”, dans.

Nodeloos om te sê, net soos die Disney-rolprent, het dié verhoogstuk ook ‘n gelukkige einde.

LEES OOK: Cheetahs outplay Pumas at Mbombela Stadium

Ander bekende liedjies soos Cyndi Lauper se ”Girls Just Want to Have Fun” en liedjies uit die High School Musical-films soos ”Bet on It” en ”Night of Nights” is met danse lewendig gemaak.

‘n Nuwe aanslag is ten opsigte van die storievertelling geneem. In plaas daarvan dat dit voorgelees word, is die orde van gebeure en agtergrond van tonele deur middel van kletsrym aan die gehoor oorgedra.

Wat die opvoering nóg meer indrukwekkend maak, is dat twee van die skool se leerders verantwoordelik vir die teks was. Jaelyn de Vries en Nina van Heerden het die teks geskryf en dit op hul eie ervarings as hoërskoolleerders gebaseer en tesame met die bekende storielyn van Beauty and the Beast, is Beauty and the Jock gebore.

Volgens Nina en Jaelyn is die boodskap wat opgesluit in die vertoning is, dat ‘n persoon nie moet oordeel op grond van wat jy sien nie, maar dat jy slegs so kan doen wanneer jy die persoon werklik leer ken, sonder al die geraas van buite.

Die produksie het al die elemente bevat vir ‘n teatrale ervaring: ligte, dekor, kostuums, energieke danse, ‘n koor wat betoor, so ‘n bietjie towerkuns en natuurlik romanse.

Exit mobile version